Tuesday 31 March 2015

Paasfees kolwyntjies

Kolwyntjies met dié lekkerste malvalekker versiersel...


Paastyd is een van my gunsteling tye van die jaar! Hierdie tyd is gevul met die reuk van vars hot cross buns wat in die huis hang, bokse en bokse vol paaseiers en kerkdienste waar my ma uiteindelik die geleentheid kry om Houtkruis uit volle bors te sing sonder dat iemand vir haar staar.

Hierdie jaar wou ek graag Paastyd gebruik om iets doen om bietjie terug te gee aan die gemeenskap. Ek het besluit om hierdie kolwyntjies te bak vir ons plaaslike ouetehuis. Hierdie is ‘n nuwe versiersel resep wat ek probeer het en ek is MAL daaroor. Ek was nog nooit lief vir swaar versiersuiker nie, so hierdie lig en romerige versiering is volgens my die perfekte afronding vir enige kolwyntjie en defnitief iets om te onthou.

Bestanddele:

1 boks kolwyntjiemengsel (sjokolade of vanilla)
2 eierwitte
½ koppie suiker
1 knippie sout
½ teelepel vanieljegeursel
1 donkersjokolade blok
2 klein pakkies Speckled Eggs

Metode:

Ek het so bietjie gekroek met die resep en sommer ‘ n boks aanmaak kolwyntjiemengsel gekoop. Volg die instruksies op die boks en laat die kolwyntjies eenkant om aft e koel.
Trek ‘n skinkbord met waspapier oor. Smelt die donkersjokolade in die mikrogolfoond en gebruik ‘n mes om die sjokolade in strepe oor mekaar te laat loop op die waspapier. Trek die strepe in verskillende rigtings en bo-oor mekaar sodat dit ‘n web vorm. Plaas die skinkbord in die yskas sodat die sjokolade kan stol.
Versiersel: 
Klits die eierwitte, suiker en sout oor matige hitte in ‘n dubbelkoker tot die suiker gesmelt het. (Dit neem so ongeveer 5 minute). Plaas nou die mengsel in ‘n elektriese mengbak en klits dit teen hoë spoed vir ongeveer 3 minute. Voeg die vanieljegeursel by terwyl jy klits.

Verdeel die versiersel tussen die kolwyntjies en versprei dit mooi. Breek nou van die gesmelte sjokolade af en plaas dit op die kolwyntjie om ‘n nessie te vorm. Rond dit af deur drie Speckled Eggs op elke nessie te plaas. 

Paashaas servette

Hierdie is 'n interessante manier om jou servette te vou om jou Paasfees tafel so bietjie op te kikker.


Stap 1:

Lê 'n groot lapservet op 'n plat oppervlak neer.


Stap 2:

Vou die servet in die helfte sodat die onderste hoekies die boonstes ontmoet.

Stap 3:

Herhaal stap drie deur die servet vir 'n tweede keer in die helfte te vou.

Stap 4:

Neem die twee boonste punte en vou hulle oor teen 'n hoek van 90⁰ soos hier onder aangedui.

Stap 5:

Vou nou die onderste. buitenste hoekies na binne.

Stap 6:

Neem die buitenste hoekies van die servet en vou hulle oor sodat die servet die vorm van 'n vlieër aanneem.

Stap 7:

Draai die servet om.

Stap 8:

Vou die onderste punt van die servet na bo.

Stap 9: 

Vou die onderpunte van die servet om sodat dit kan staan. Ek het sommer 'n paperclip gebruik om die servet in plek te hou.

Monday 30 March 2015

Dodelike sjokolade kaaskoek met Bar-One ganache

Hierdie drie-sjokolade kaaskoek is die oorsaak dat my jeans bietjie stywer gesit het die afgelope maand...maar dit was heeltemal die moeitewerd! Hierdie is een van Sarie Kos se resepte wat ek so bietjie my eie gaan maak het. Dit lewer een kaaskoek van 25cm.

Bestanddele:


Kors:
200g Romany Creams beskuitjies
100g botter, gesmelt

Vulsel:
250ml room
100g 70%-donkersjokolade, fyngekap
100g melksjokolade, fyngekap
100g witsjokolade, fyngekap
750g roomkaas
1 blik (385g) kondensmelk
125ml strooisuiker
2 eiers
10ml vlapoeier

Ganache:
4x 55g Bar-One sjokoladestafies
100ml room

Metode:

Verhit die oond tot 160⁰C en spuit 'n 25cm losboom koekpan met kossproei. Kap die koekies fyn en meng die gesmelte botter in. Voer die bodem van die koekpan met die koekiemengsel uit en druk dit stewig vas. Plaas nou die pan in die yskas tot dit later weer benodig word.
Plaas die gekapte sjokolade in drie aparte bakke. Verhit die room tot kookpunt op die stoof. Verdeel nou die room tussen die drie bakke (sowat 80ml elk) en roer dit deur tot die sjokolade smelt. Laat dit dan eenkant om af te koel. 
Klits die roomkaas, kondensmelk, suiker, eiers en vlapoeier in 'n elektriese mengbak tot lig en romerig. Verdeel dit dan ook tussen jou drie sjokolade mengsels en meng dit goed.
Haal nou die koekpan weer uit die yskas. Gooi die donkersjokolade mengsel eerste in die koekpan, gevolg deur die witsjokolade mengsel en daarna die melksjokolade mengsel. Gooi die mengsels mooi in die middel van die pan sodat dit van daar versprei.
Bak dit vir 40 minute waarna jy die oond se temperatuur na 120⁰C kan verminder. Bak dit dan vir 'n verdere uur. Skakel die oond af en laat dit afkoel in die oond. 
Smelt die Bar-One stafies en die room saam oor lae hitte en roer dit gedurig. Laat dit afkoel totdat dit 'n dik sous vorm. Skep nou die mengsel oor die kaaskoek en verkoel dit oornag in die yskas. Verwyder die ring van die koekpan en graneer met sjokoladeskerwe en framboos.

Wenk: Hierdie kaaskoek word al hoe lekkerder hoe langer hy in die yskas staan.