Tuesday 31 March 2015

Paasfees kolwyntjies

Kolwyntjies met dié lekkerste malvalekker versiersel...


Paastyd is een van my gunsteling tye van die jaar! Hierdie tyd is gevul met die reuk van vars hot cross buns wat in die huis hang, bokse en bokse vol paaseiers en kerkdienste waar my ma uiteindelik die geleentheid kry om Houtkruis uit volle bors te sing sonder dat iemand vir haar staar.

Hierdie jaar wou ek graag Paastyd gebruik om iets doen om bietjie terug te gee aan die gemeenskap. Ek het besluit om hierdie kolwyntjies te bak vir ons plaaslike ouetehuis. Hierdie is ‘n nuwe versiersel resep wat ek probeer het en ek is MAL daaroor. Ek was nog nooit lief vir swaar versiersuiker nie, so hierdie lig en romerige versiering is volgens my die perfekte afronding vir enige kolwyntjie en defnitief iets om te onthou.

Bestanddele:

1 boks kolwyntjiemengsel (sjokolade of vanilla)
2 eierwitte
½ koppie suiker
1 knippie sout
½ teelepel vanieljegeursel
1 donkersjokolade blok
2 klein pakkies Speckled Eggs

Metode:

Ek het so bietjie gekroek met die resep en sommer ‘ n boks aanmaak kolwyntjiemengsel gekoop. Volg die instruksies op die boks en laat die kolwyntjies eenkant om aft e koel.
Trek ‘n skinkbord met waspapier oor. Smelt die donkersjokolade in die mikrogolfoond en gebruik ‘n mes om die sjokolade in strepe oor mekaar te laat loop op die waspapier. Trek die strepe in verskillende rigtings en bo-oor mekaar sodat dit ‘n web vorm. Plaas die skinkbord in die yskas sodat die sjokolade kan stol.
Versiersel: 
Klits die eierwitte, suiker en sout oor matige hitte in ‘n dubbelkoker tot die suiker gesmelt het. (Dit neem so ongeveer 5 minute). Plaas nou die mengsel in ‘n elektriese mengbak en klits dit teen hoë spoed vir ongeveer 3 minute. Voeg die vanieljegeursel by terwyl jy klits.

Verdeel die versiersel tussen die kolwyntjies en versprei dit mooi. Breek nou van die gesmelte sjokolade af en plaas dit op die kolwyntjie om ‘n nessie te vorm. Rond dit af deur drie Speckled Eggs op elke nessie te plaas. 

No comments:

Post a Comment