Die volgende resep lewer ongeveer 30 samoesas. Dit kan warm
of koud bedien word. Ek stel voor om dit met 'n bietjie blatjang voor te sit.Vir my is hierdie die perfekte peuselhappie om in die huis
te hê op ‘n reënirige dag soos vandag.
Bestanddele:
Vulsel:
1 groot ui, fyngekap
25 ml kookolie
250 g maalvleis
10 ml matige kerriepoeier
5 ml sout
25 ml blatjang
25 ml tamatiesous
25 ml mielieblom
Kors:
275 g (500 ml, ongesif afgemeet) koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
100 g (110 ml) botter of margarien, by kamertemperatuur.
Ongeveer 100 ml koue water
Metode:
Braai die ui in ‘n kastrol oor matige hitte in die olie tot
sag. Voeg die maalvleis by, roer dit met ‘n vurk los en braai dit tot gaar.
Voeg nou die kerriepoeier, sout, tamatiesous en blatjang by en braai vir ‘n verdere
5 minute. Maak nou die mielieblom aan met ‘n bietjie koue water tot ‘n pasta en
voeg dit by die maalvleis. Roer goed deur en laat dit dik word. Laat nou die
vulsel afkoel.
Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Vryf die
botter of margarien in die meelmengsel in. Sny die water met ‘n spatula in die
mengsel in tot ‘n stywe deeg vorm.
Rol die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak. Druk
sirkels, 9 cm in deursnee, uit die deeg.
Hiervoor het ek sommer een van my ma se vrugtevles deksels gebruik.
Skep nou 'n teelepel vulsel op elke sirkel. Maak die rande
van die deegsirkels met koue water klam. Vou die helfte van die deegsirkel oor
die vulsel en druk die boonste rand styf op die onderste rand vas.
Braai die tertjies in warm, diep kookolie tot uitgerys en
goudbruin. Dreineer hulle op kombuispapier, laat dit effens afkoel en geniet!
Fantastic!!
ReplyDeleteFantastic!!
ReplyDelete