Wednesday 30 November 2016

Frangelico halfmaantjies

Kersfees is om die draai en dis tyd om die koekblikke te begin volmaak vir die vakansie. Bederf hierdie jaar jou gesin met iets anders as die doodgewone gemmer-of soetkoekie. Hierdie resep is een wat ek by my Tannie Hanlie gekry het, en dit is defnitief een van die lekkerste brosbrood resepte wat ek al gemaak het. Die resep is een van Hilaire Walden sn uit haar 'Best Ever Cookie Book'


Bestanddele:

-300g (2 1/2 koppies) koekmeel
-Knippie sout
-225g (1 koppie) ongesoute botter
-50g (1/4 koppie) strooisuiker
-15ml (1 eetlepel) Frangelico of Hazelnut likeur (jy kan water ook gebruik)
-5ml (1 teelepel) vanieljegeursel
-65g (1/2 koppie) hazelneute, fyngekap
-75g melksjokolade, fyn gerasper
Versiering:
-350g melksjokolade om die koekies in te doop
-Versiersuiker om oor die koekies te sif.

**Ek verkies dit om die neute en sjokolade met 'n voedselverwerker fyn te maak sodat die koekies 'n sagter tekstuur het.

Metode:

1. Voorverhit die oond tot160˚C en spuit twee groot bakplate met kleefwerende middel.
2. Sif die meel en sout saam in 'n klein bakkie.
3. Meng die botter in 'n elektriese mengbak tot sag. Voeg nou die suiker by en meng tot lig en romerig.
4. Meng die Frangelico/water en vanieljegeursel in.
5. Vou nou die meel versigtig in by die botter mengsel tot alles net mooi gemeng is. Voeg die fyngekapte hazelneute en sjokolade by en meng deur.
6. Gebruik nou jou hande om die deeg in halfmaantjies van ongeveer 5x1cm in grootte te vorm en plaas die halfmaantjies op die bakplate ongeveer 5 cm uitmekaar.
7. Bak vir 20-25 minute en plaas dan die koekies op 'n afkoelrak om heeltemal af te koel.
8. Plaas die koekies op 'n stuk bakpapier en sif liggies versiersuiker oor al die koekies. 
9. Smelt die sjokolade en doop die koekies daarin sodat die sjokolade die helfde van die koekie bedek. Plaas dit op die bakpapier om af te koel en te stol.
10. Stoor in 'n lugdigte houer.