Monday 29 December 2014

Melktertnessies


Uiteindelik is daar weer tyd vir bak! Ek het die afgelope maand saam my ouers op vakansie spandeer. Ons was op ‘n eiland vakansie waar my dae grootliks uit swem, cocktails drink, lag saam my sussie en chocolate mousse uit bestaan het. Dit was ons gesin se heel laaste vakansie saam as die vier Stoffbergies, want Junie hou ons troue...ja, my sussie is uiteindelik VERLOOF!! So vir die volgende paar maande gaan ek my beste probeer om my resepte so “gewigsvriendelik” as moontlik te hou, net vir die strooimeisierok se onthalwe. Tata sjokolade en hello vetvrye melk! Om te begin het ek vandag se resep aangepas uit my ma se Soet en Sout Gebak vir Volgehoue Energie 1. Die volgende resep lewer ongeveer 20 melktertnessies.


Bestanddele:


3 filodeegvelle
1 liter vetvrye melk
2.5ml sout
125ml suiker
30ml koekmeel
60ml mielieblom
15ml vlapoeier
3 ekstra groot eiers, geklop
5ml vanieljegeursel
5ml fyn kaneel

Metode:

Voorverhit die oond tot 180⁰C. Sny elke filodeeg vel in 12 vierkante. Voer elke holte van ‘n kolwyntjiepan met twee vierkante uit. Verf die vierkante liggies met botter om hulle aanmekaar te laat kleef en laat hulle met mekaar oorvleuel om ‘n nessie te vorm. Laat ‘n groot genoeg holte vir die vulsel. Plaas die nessies in die oond em bak vir 10 minute tot ligbruin. Wees versigtig hier want die deeg verbruin baie vinnig. Haal dit uit die oond en laat dit eenkant.


Verhit melk oor matige hitte in ‘n groot kastrol. Meng al die droë bestanddele in ‘n klein mengbak. Voeg die eiers en ‘n klein bietjie melk, indien nodig, by om ‘n pasta te vorm. Sodra die melk kook, giet bietjie oor die meel-en-eiermengsel  en roer vinnig. Giet die meel-en-eiermengsel in die kastrol en roer aanhoudend met ‘n handklitser oor matige hitte tot verdik. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel in. Wees versigtig dat die melk nie aanbrand nie. Laat afkoel vir 15 minute. Skep 4 eetlepels van die melktertvulsel in elke nessie net voor opdiening. (As jy dit te lank voor bediening inskep gaan die nessies te sag word) Besprinkel elke nessie met kaneel. Bedien warm of koud.

Sunday 23 November 2014

Grondboontjiebotterkoekies...gestempel met liefde!

Die volgende resep lewer ongeveer 7 dosyn koekies. Hierdie resep sal defnitief een van my favourites word om te bak, veral oor Kerstyd, en ek is bitter trots om te sê dat hierdie my heel eerste 'eie' resep is. My ma het die naweek vir my die oulikste koekiestempel van Prochef gekoop by ons Checkers, en dit was net wat ek nodig gehad het om hierdie koekies so lekker te laat lyk as wat dit proe. 


Bestanddele:

220g botter of margarien
1 koppie suiker (Jy kan so klein bietjie meer ook gebruik)
2 eiers
1 teelepel venieljegeursel
1 koppie gladde grondboontjiebotter
4 koppies meel
½ teelepel koeksoda
½ teelepel sout

Metode:

Meng die botter en suiker in ‘n elektriese mengbak tot ‘n gladde mengsel. Voeg die vanieljegeursel, eiers en grondboontjiebotter by en meng goed.
Sif die meel, koeksoda en sout saam en voeg dit by die grondboontjiebotter mengsel. Meng tot ‘n deeg vorm.
Maak die deeg in kleefplastiek toe en plaas dit in die yskas vir omtrent ‘n uur.
Voorverhit die oond tot 180⁰C en smeer twee bakplate met ‘n kleerwerende middel.
Rol nou die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak tot ‘n dikte van 4mm. Druk die stempel in meel, skud die grootste hoeveelheid meel af en druk die stempel in die deeg. Druk nou ‘n koekie uit met ‘n ronde koekiedrukker en plaas dit op die bakplaat.

Bak die koekies vir 10 minute teen 180⁰C tot ligbruin. Laat dit afkoel op ‘n afkoelrak en geniet!


Monday 10 November 2014

Boeresamoesas

Die volgende resep lewer ongeveer 30 samoesas. Dit kan warm of koud bedien word. Ek stel voor om dit met 'n bietjie blatjang voor te sit.Vir my is hierdie die perfekte peuselhappie om in die huis te hê op ‘n reënirige dag soos vandag.


Bestanddele:


Vulsel:
1 groot ui, fyngekap
25 ml kookolie
250 g maalvleis
10 ml matige kerriepoeier
5 ml sout
25 ml blatjang
25 ml tamatiesous
25 ml mielieblom

Kors:
275 g (500 ml, ongesif afgemeet) koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
100 g (110 ml) botter of margarien, by kamertemperatuur.
Ongeveer 100 ml koue water

Metode:


Braai die ui in ‘n kastrol oor matige hitte in die olie tot sag. Voeg die maalvleis by, roer dit met ‘n vurk los en braai dit tot gaar. Voeg nou die kerriepoeier, sout, tamatiesous en blatjang by en braai vir ‘n verdere 5 minute. Maak nou die mielieblom aan met ‘n bietjie koue water tot ‘n pasta en voeg dit by die maalvleis. Roer goed deur en laat dit dik word. Laat nou die vulsel afkoel.
Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter of margarien in die meelmengsel in. Sny die water met ‘n spatula in die mengsel in tot ‘n stywe deeg vorm.
Rol die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak. Druk sirkels, 9 cm in  deursnee, uit die deeg. Hiervoor het ek sommer een van my ma se vrugtevles deksels gebruik.
Skep nou 'n teelepel vulsel op elke sirkel. Maak die rande van die deegsirkels met koue water klam. Vou die helfte van die deegsirkel oor die vulsel en druk die boonste rand styf op die onderste rand vas.


Braai die tertjies in warm, diep kookolie tot uitgerys en goudbruin. Dreineer hulle op kombuispapier, laat dit effens afkoel en geniet!

Wednesday 22 October 2014

Nutella fudge met seesout


Hierdie is een van daardie resepte wat ek al so paar maande terug op die internet gesien het en al lankal wou maak. Ek het die resep  gesien op die Cookin' Canuck blog, ‘n regtige oulike blog wat julle gerus na kan gaan kyk, en dit net so klein bietjie aangepas. Ek het die blokkies gister gemaak omdat my sussie vir ons kom kuier het en ek is seker ons het al omtrent alles opgeët!  

 Hierdie resep is regtig baie kort en vinnig.

Bestanddele:

1 blik kondensmelk
1 teelepel vanieljegeursel
200g donkersjokolade, fyngekap
1 koppie Nutella
3 eetlepels ongesoute botter, by kamertemperatuur
Seesout, ongeveer ½ teelepel

Metode:

Smeer ‘n pan van 22x22cm en voer dit uit met waspapier. Plaas die kondensmelk, vanieljegeursel, sjokolade, Nutella en botter in ‘n dubbelkoker. Jy kan ook jou eie dubbelkoker maak deur ‘n glas- of metaalbak bo-op ‘n pot met bietjie water op die stoof te plaas. Onthou dat die bak nie aan die water moet raak nie. Roer die mengsel gedurig totdat al die sjokolade en botter gesmelt het. Gooi nou hierdie mengsel oor in jou gesmeerde pan en skraap dit plat met ‘n spatula of mes. Plaas nou die pan in die yskas vir ten minste twee ure.

Haal die fudge uit die yskas en keer dit om op ‘n  snybord. Verhit nou die lem van ‘n skerp mes met ‘n bietjie kookwater sodat jy maklik die fudge in blokkies kan sny. Maak seker jy maak nie die blokkies te groot nie. Gooi nou ‘n klein bietjie seesout oor die fudge en geniet! Stoor die res van die blokkies in die yskas.


Wenk: Ek verkies om die seesout oor te gooi net voordat ek dit bedien, anders smelt dit weg in die fudge in terwyl dit in die yskas staan. 

Tuesday 21 October 2014

Klein lemon meringue kaaskoekies

Seker een van die lekkerste dinge daaraan om veearsenykunde te swot is die feit dat jy al middel Oktober klaar geskryf is aan jou eksamen vraestelle, en jy dan jou dae kan geniet in die son langs die swembad.  Die volgende kaaskoekies is die ideale verfrissende happie vir ‘n warm, sonnige somersdag. Ek het een van my pa se rooikop sussies, Tannie Bessie, se baie lekker kaaskkoekresep gebruik en dit net so klein bietjie opgekikker.



Bestanddele:


Kors:
1 pakkie Marie beskuitjies
100g ongesoute botter, gesmelt
2 eetlepels strooisuiker

Vulsel:
1 blik kondensmelk
½ suurlemoen se sap
500g Lancewood Cream Cottage Cheese
30ml koue water
20ml gelatien
250ml room, styfgeklop

‘Lemon curd’:
2 eier gele
½ koppie strooisuiker
2 eetlepels suurlemoensap
1 teelepel suurlemoenskil
2 eetlepels ongesoute botter

Meringue:
2 eier witte
½ koppie strooisuiker
⅛ teelepel kremetart
½ teelepel vinieljegeursel

Metode:


Spuit ongeveer 12 klein kaaskoekpannetjies uit met kleefwerende kossproei. Rol die beskuitjies fyn met ‘n koekroller, voeg die strooisuiker en gesmelte botter by. Vul elke pannetjie met ‘n lag van omtrent ½cm en druk dit plat met die agterkant van ‘n teelepel. Plaas jou pannetjies in die oond vir 5 minute by 180⁰C. Haal die pannetjies uit die oond en laat dit behoorlik afkoel.

Maak jou vulsel aan. Meng die kondensmelk, suurlemoensap en roomkaas saam in ‘n elektriese mengbak tot ‘n gladde mengsel vorm. Strooi nou die gelatien oor die koue water en meng dit goed. Plaas nou die gelatien in die mikrogolf vir tien sekondes en roer dit dadelik weer goed deur. Herhaal dit 2-3 keer totdat jou gelatien goed opgelos is en jou mengsel warm is. Meng dit nou dadelik by jou mengsel in die elektriese mengbak. Dit is belangrik dat jou gelatien mengsel nie kook nie en ook nie stol nie. Vou nou jou styfgeklopte room by die mengsel in. Vul jou pannetjies op met die mengsel en plaas dit oornag in die yskas.

‘Lemon curd’  kry mens sommer by jou supermark te koop, maar as jy kans sien vir die bietjie ekstra moeite insit kan jy gerus die volgende metode volg, jy sal nie spyt wees nie. Berei dit voor in ‘n dubbelkoker oor warm water op die stoof. Roer al die bestandele vir ongeveer 8-10 minute. Druk dit deur ‘n fyn siffie in ‘n klein bakkie in. Dek dit met plastiek en laat die plastiek aan die mengsel raak sodat daar nie ‘n velletjie op die bo-laag vorm nie. Laat dit afkoel tot kamertemperatuur en plaas dit in die yskas saam met jou kaaskoekies.

Druk jou kaaskoekies versigtig uit die pannetjies sodra hulle gestol het. Smeer nou ‘n klein hoeveelheid lemon curd op elke koekie.

Berei jou meringue voor in ‘n dubbelkoker op die stoof. Roer jou eierwitte, kremetart en strooisuiker saam en gedurig totdat al die suiker opgelos het. Klop nou dadelik jou mengsel in ‘n elektriese mengbak, eers stadig en dan op hoë spoed, totdat die mengsel glad en styf word. Voeg jou vanieljegeursel by en meng dit goed. Pyp nou ‘n klein bietjie van die meringue uit op elke koekie soos wat dit vir jou sal mooi lyk. Gebruik nou gasbrander om die bokant van
elke meringue liggies bruin te verkleur.

Bedien onmiddelik of stoor in die yskas om dit later te geniet.

Monday 20 October 2014

Maklike Lindt sjokolade mousse met fillowafels



Ek is heeltemal verslaaf aan sjokolade mousse! Dit is juis hoekom ek besluit het om my eerste post hieroor te doen. Vir die volgende resep het jy net twee bestandele nodig. Dit is baie vinnig en eenvoudig om te maak en basies heeltemal flop-‘proof’. Die grootste geheim agter die resep is om sjokolade van baie goeie gehalte te gebruik.

Bestanddele:


·         2 velle fillodeeg
·         80 ml olie
·         50 ml versiersuiker

·         250 ml volroom melk
·         200 g Lindt 70% donkersjokolade, fyngekap


Fillowafels:

Verhit die oond tot 180 ⁰C. Sny elke vel fillodeeg in 8 kwarte met ‘n skerp mes. Plaas die kwarte bo-op mekaar en gebruik koekiedrukkers om vormpies in die deeg te druk, of gebruik ‘n skerp mes om ‘n woord van jou keuse uit te sny. Pak die velle nou op ‘n bakplaat wat jy goed met kleefwerende kossproei gespuit het en verf hulle liggies met olie. Sif nou die versiersuiker oor. Plaas die velle in die ond vir ongeveer 8-12 minute of tot hulle goudbruin gebak het. Laat hulle goed afkoel.


Sjokolade mousse:


Verhit die melk in die mikrogolf tot kookpunt en gooi dit dan bo-oor die sjokolade. Roer dit goed totdat al die sjokolade gesmelt het en ‘n gladde mengsel vorm. Moenie dat die mengsel stol nie. Klits nou die mengsel met ‘n elektriese klitser op hoë spoed tot dik en romerig. Skep dit in koppies van jou eie keuse en plaas dit in die yskas om te stol. Sit dit voor met die gebakte fillowaffels en vars bessies van jou keuse.


Sunday 6 July 2014

Omskakelings_ _ _ _ _xx

1 teelepel = 5 ml
1 eetlepel = 3 teelepels = 15 ml
¼ koppie = 4 eetlepels
⅛ koppie = 2 eetlepels
½ koppie = 8 eetlepels
¾ koppie = 12 eetlepels
⅓ koppie = 5 eetlepels + 1 teelepel

⅔ koppie = 10 eetlepels + 2 teelepels