Monday 27 April 2015

Nutella truffels

Hierdie is van die lekkerste truffles wat ek nog geproe het. Ek sukkel altyd om met sjokolade te werk omdat dit by kamertemperatuur smelt nadat ek dit gebruik het om iets te versier. Ek het bietjie opgelees en op 'n artikel afgekom waar hulle op 'n baie moeilike manier eers iets van vetmolekules en verbindings verduidelik en dan uiteindelik verduidelik hoe jy dit reg kan kry om die sjokolade waarin jy jou truffles doop gestol te hou by kamertemperatuur. Dit maak alles sommer baie makliker want dan hoef jou truffles nie die hele tyd in die yskas te staan nie, of dan kan jy selfs dit in boksies verpak vir geskenkies.



Ek sal voorstel dat jy die tutoriaal kyk voordat jy hierdie resep uittoets. Hierdie resep lewer ongeveer 30 truffles en kan vir 7 dae in 'n lugdigte houer of tot 30 dae in die vrieskas gestoor word.

Bestanddele:

280g donkersjokolade
⅓ koppie room
½ koppie Nutella
200g donker/melksjokolade om die truffles in te doop
50g gekapte neute vir versiering (opsioneel)

Metode:

Rasper die donkersjokolade en gooi dit in 'n mengbak. Maak nou die room warm in die mikrogolf, maak seker dat dit nie kook nie. Gooi dan die room oor die sjokolade en meng dit goed sodat al die sjokolade smelt en 'n gladde mengsel vorm. Voeg nou die Nutella by en meng dit goed deur. Bedek die mengbak met kleefplastiek en plaas dit in die yskas vir ongeveer 2 ure om te stol.

Bedek nou 'n bakplaat of skinkbord met waspapier en laat eenkant. Haal die mengsel uit die yskas en skep balletjies van ongeveer 1 teelepel groot daaruit en plaas dit op die bakplaat. Hiervoor het ek sommer die dingetjie gebruik waarmee my ma altyd balletjies uit waatlemoen skep. Jy kan ook die balletjies vorm deur dit in jou handpalms te rol. Plaas die balletjies terug in die yskas vir 15 minute.

Smelt die sjokolade in die mikrogolf. Volg die instruksies in die tutoriaal waarvan ek bo gepraat het. As jy nie 'n termometer het nie, verhit die sjokolade en meng dit na elke paar sekondes om te toets. Die sjokolade is reg as dit effens brand as jy dit teen die onderkant van jou lip laat raak. Koel dan jou sjokolade af soos wat hulle sê deur oorblywende sjokolade by te meng. Die temperatuur is dan reg as die sjokolade effens koeler as liggaamstemperatuur is wanneer dit aan jou onderlip raak. Maak gebruik van 'n vurk om die truffle balletjies een-een in die sjokolade te doop, tik die vurk liggies teen die kant van die bak om die oortollige sjokolade af te skud en plaas dan die balletjie op die bakplaat om te stol. Moenie die balletjies in die yskas plaas nie. (Tensy jy nie my metode gevolg het om die sjokolade te smelt nie.)

As al jou balletjies bedek is met sjokolade en gestol het kan jy dit versier deur 'n ekstra bietjie sjokolade met die vurk op die bokant van 'n truffle te sit en dan dadelik jou versiersel op te sit. Jy kan neute, klapper, versiersuiker of enige iets van jou keuse gebruik. Los die sjokolade vir 'n uur om behoorlik te stol en gebruik handskoene om dit te hanteer as jy regtig moet sodat jy nie jou vingerafdrukke daarop los nie.

Stoor dit in 'n lugdigte houer en geniet!


No comments:

Post a Comment