Thursday 2 April 2015

Paaseiers met kaaskoekvulsel

Hierdie resep lewer ongeveer 8 paaseiers en is die ideale paasfees bederf wat jy binne 'n uur kan voorberei en bedien. Ek het die hol paaseiers sommer by Woolworths gekoop. Die lemon curd kry jy by jou plaaslike supermark te koop, maar as jy kans sien kan jy gerus die resep probeer wat ek vir my Klein Lemon Meringue kaaskoekies gebruik het...ek belowe jy sal die spyt wees nie.

Bestanddele:

8 hol sjokolade paaseiers, ongeveer 4x6cm
150g roomkaas
¼ koppie versiersuiker, gesif
½ teelepel suurlemoensap
½ teelepel vanieljegeursel
125ml (½ koppie) room

Metode:

Gebruik 'n mes om versigtig die bokante van die sjokolade eiers te verwyder. As jy dit netjies wil laat lyk sal dit help as jy die mes vooraf met warm water verhit. Plaas dan die doppe in die yskas om koel te bly terwyl jy die vulsel voorberei. 
Klop die roomkaas. versiersuiker, suurlemoensap en vanieljegeursel saam in 'n elektriese mengbak teen hoë spoed vir 3-4 minute en laat eenkant. Klop nou die room in 'n aparte bak styf en vou dit daarna by die roomkaas mengsel in. 
Vul nou elke eiertjie met vulsel en plaas dit in die yskas vir ten minste 'n halfuur om te stol.
Wanneer die vulsel reg is, skep 'n klein holtetjie van ongeveer 1 cm diep in elke eiertjie se vulsel. Vul dan die holtetjie met lemon curd en bedien

Hierdie eiertjies kan 2-3 dae voor die tyd reeds gemaak word en in 'n lugdigte houer in die yskas gestoor word. 



No comments:

Post a Comment