Wednesday 1 July 2015

Ouma Judy se guava-jellie


Ek is ongelooflik opgewonde om hierdie resep met julle te deel! Dit het behoort aan my liefste Ouma Judy. Ek onthou hoe ons in my kinderdae vir haar op Ohrigstad gaan kuier het en sy dan met bokse koejawels in haar kombuis gestaan het. Sy het ons nooit huistoe gestuur sonder ten minste een van haar bottles jellie nie, en dan het ons dit maar baie spaarsamig gebruik tot ons weer kon gaan kuier. My ouma was ongelooflik goed in die kombuis, ek wonder soms of dit nie dalk is waar my liefde vir bak vandaan kom nie. Sy het in haar laaste paar jaar so 10 minute se ry van ons kampus af gebly, so ek kon weekliks gou gaan inloer en dan het ek altyd gesukkel om daar weg te kom want ons kon net  nie ophou gesels nie. My ouma is verlede jaar oorlede en ons planne dat sy moes kom kuier en my stap-vir-stap verduidelik hoe om hierdie jellie te maak het ongelukkig nooit gerealiseer nie.


Ek wag al ‘n jaar vir koewjawels om in die winkels te kom sodat ek hierdie resep kan uittoets. Ek het nog nooit so baie gewens dat daar selfone in die Hemel was soos hierdie naweek nie, want jellie kook is baie harde werk! Alhoewel my guava-jellie seker nooit by my ouma sn sal kom nie is hierdie is ‘n resep wat ek eendag as ek self ‘n oumatjie nog sal maak.

Bestanddele: (Genoeg vir ongeveer 1 liter jellie)


2.5kg koejawels
Water
Ongeveer 4 koppies suiker

Metode:


Maak seker dat die koejawels wat jy koop nie oorryp is nie. Dit is belangrik dat die koejawels baie pektien en suur bevat en daarom werk voorryp vrugte die beste.

Sny die puntjies van die koejawels af en sny hulle dan op in stukkies. Gooi dit in ‘n groot kastrol saam met die water. Gebruik een koppie (250ml) water vir elke 500g vrugte. Kook dit vinnig teen ‘n hoë temperatuur vir 22-25 minute.

Gebruik nou ‘n klam flenniedoek om die sap te onttrek. Jy kan ook ‘n groot draadsif met twee lae kaadoek oortrek en ‘n lagie watte tussen die twee lae pak. Ek het hier my flenniedoek oor ‘n groot kastrol getrek en dit met ‘n toutjie styf vasgebind. Gooi die kokende vrugte op die doek sodat dit stadig deurdrup. Hier moet jy nou geduldig wees, gooi vir jou ‘n glasie wyn, gryp ‘n goeie boek en los die vrugte vir 3 ure om te dreineer. Moet op geen stadium die vrugte roer of deurdruk nie want dit sal jou jellie ‘n wolkerige kleur maak.

Skep dan versigtig die vrugte van die doek af en verwyder die doek. Meet die hoeveelheid sap wat jy het. Voeg een koppie suiker by vir elke koppie sap en verhit die sap op die stoof sodat die suiker smelt en ‘n stroop vorm.

Suig die stroop deur ‘n klam flennielap om die onsuiwerheid van die suiker uit die stroop te kry. Plaas dan die stroop op die stoof en laat dit tot ‘n jellie kook. Dit is belangrik dat jou jellie baie vinnig kook en dat jy dit gladnie moet roer nie. My jellie het vir ongeveer 12 minute gekook tot dit reg was. Jou jellie is reg wanneer dit stadig van ‘n lepel af loop of wanneer jy dit op ‘n piering laat drup. Jy kan ook die jellie met jou vinger aanvoel sodra dit afgekoel het.

Maak seker dat die bottels wat jy gaan gebruik is skoon en steriel is. Vul 'n kastrol met met koue water ongeveer 5 cm diep en plaas jou bottels en deksels in die water. Plaas die kastrol in 'n warm oond en laat die bottels kook vir ongeveer 10 minute. Vul hulle sodra jy hulle uit die oond haal.


Bedien met warm brood en botter.

No comments:

Post a Comment