Friday 25 December 2015

Bosveld patats met Amarula


Uiteindelik het ek weer tyd om te blog! Hierdie jaar was een van my besigste nog en ek het vinnig besef dat hierdie blog storie iets is waarvoor mens baie tyd moet hê. Die resepte het opgegaar en nou het ek sommer baie lekker dinge om weer met julle te deel.

Ek is verbaas met hoeveel daar in 'n enkele jaar kan gebeur. Eerstens kan ek met trots aankondig dat ek my vierdejaar van veeartsenykunde geslaag het en nou net nog twee jaar se studies oor het. My een dosent spot dat ons nou al maar die dokter titel met 'n klein lettertjie 'd' voor ons name mag begin byvoeg. Ek het hierdie jaar ook 'n swaer ryker geword en die gewig van my eerstejaarsindroom afgeskud. En dan het my pa ook vir ons die mooiste plaas gekoop in die Waterberge, tussen Vaalwater en Nylstroom. Dit is ons eie stukkie paradys! My pa het groot geword op 'n plaas wat verkoop is toe hy tien was, en van toe af droom hy al om eendag sy eie stukkie grond te hê. Dis nou veertig jaar later en uiteindelik kan my pa sy groot droom leef. Nodeloos om te sê, ons spandeer nou elke oomblik wat ons moontlik kan daar!

Dis daaroor dat ek besluit het om sommer eerste my bosveld patats met Amarula met julle te deel. Dit is een van ons gunstelinge saam braaivleis. Ek kan belowe dat hierdie altyd 'n treffer gaan wees.

Benodighede: 

Patats
Amarula
Bruinsuiker
Botter
Foelie

Metode:

Sny die patats in skywe en pak dit in lae op 'n vel foelie. Ek verkies om die skil aan te hou omdat dit baie mooi lyk as die patats gaar is. Voeg die botter, bruinsuiker en Amarula by na smaak (moenie skaam wees nie). Maak die foelie mooi toe en sit dit op medium-warm kole vir 35-40 minute tot gaar.