Saturday 31 January 2015

Potjiekos

Ons het gister ons jaarlike Pot&Pons gehad by die koshuis. Huis Onderstepoort sn sluit in ‘n baie fun dag van swem, water slides, lekker musiek en potjie bou terwyl jy aan ‘n (baie sterk) glasie pons sluk. Dit is een van die lekkerste dae van die jaar!
Hierdie jaar was dit my beurt om ons pot te bou, en ek is ongelooflik trots om te sê dat ek dit op my eie bemeester het. Ja, sonder die hulp van ‘n man!
Aangesien ek nog nooit voorheen ‘n potjie gemaak het nie het my pa my verlede naweek geleer. Ek moes notas maak, die bestanddele versigtig saam hom afmeet, die stappe so paar keer van voor tot agter aan hom terugsê voor ek kon ry en gister elke nou en dan ‘n foto stuur om terug te rapporteer. Dit was duidelik dat ek by die beste geleer het want die potjie was ‘n groot sukses. Ek deel graag dan nou met julle my pa se resep. My pa se grootste geheim is om geen water by die pot te gooi nie.

Bestanddele: (Genoeg vir 10 mense)


15 ml kookolie
1½ ui, fyngekap
½ greenpepper
50 ml olyfolie
80 g botter
1t borrie
4 eetlepels mild kerriepoeier
3 kg skaapskenkels
Sout en peper
Groente van eie keuse
6 eetlepels Chutney
6 eetlepels tamatiesous
3 eetlepels worchestersous
500 ml room

Metode:


Smeer die binnekant van ‘n nommer 4 pot met kookolie uit. Plaas die pot oor die kole en los hom vir so ongeveer 15 minute om behoorlik warm te raak. Dit is belangrik dat jy baie warm kole hier moet gebruik. Sodra die pot die regte temperatuur bereik het moet jy die olyfolie en botter ingooi en die botter toelaat om te smelt. Braai nou die uie en greenpepper in die olie tot sag. Voeg die borrie en kerriepoeier by en roer dit goed deur. Nou kan jy jou vleis in die pot gooi. Plaas ‘n paar droë takkies onder die pot om vlammetjies te maak omdat jou pot nou goed warm moet wees. Meng die vleis met die uie en braai dit sodat die vleis net mooi bruin verkleur. Haal nou dadelik baie van die kole onder die pot uit sodat die vleis nie aanbrand nie. Jy wil omtrent 4 kole onder jou pot hou sodat dit stadig kook. Plaas nou die deksel op die pot en wag so ongeveer 20 minute voordat jy die eerste keer weer kyk. Roer die vleis stadig deur, maak seker dit brand nie, en voeg nou sout en peper by na smaak. Jou vleis behoort nou al sy eie sousie begin maak het, as dit nie het nie beteken dit nou kole is te warm. Net as dit ‘n noodgeval is kan jy nou ‘n halwe koppie water byvoeg...maar NET as dit ‘n noodgeval is! Plaas nou weer die deksel op en los die vleis vir nog ‘n uur om sag te word. Loer so elke 20 minute net om die temperatuur van jou kole te monitor. 

Nou kan jy jou groente in lae in die pot pak. Pak die groente wat die langste vat om sag te word eerste in. Maak die pot toe en los dit vir ‘n uur om sag te word, weereens moet jy jou kole monitor. Toets ook so een of twee keer of jy genoeg sout in die pot het. Wanneer alles in jou pot sag gekook het kan  jy jou ‘toorgoed’ (soos wat my pa dit noem) bygooi. Dit sluit in al die lekker goed soos die worchestersous, tamatiesous, chutney, room en mushroom sous. Roer nou jou pot versigtig deur. Sit die deksel op sodat die pot vir ‘n verdere 15 minute kan kook en begin almal nader roep om te kom eet. 

Wednesday 28 January 2015

Nutella kaaskoek mousse koppies

Bestanddele

 200 g melksjokolade
120 ml roomkaas
½ koppie strooisuiker
⅔ koppie Nutella
½ teelepel vanieljegeursel
1 houer (250ml) Orley Whip

Metode

Gebruik foelie muffin houertjies om die sjokolade koppies te vorm. In ‘n dubbelkoker, laat die melksjokolade smelt. Voer nou elke houertjie met ‘n dun lagie sjokolade uit en laat dit stol voor jy die volgende laag byvoeg. Plaas die koppies in die yskas.

Klop die roomkaas in ‘n elektriese mengbak tot sag. Voeg die strooisuiker, Nutella en vanielje by tot die mengsel glad is. Klop nou die Orley Whip in ‘n aparte bak styf en vou dit dan by die Nutella mengsel in.

Vul nou elke sjokolade koppie met mousse. Plaas dit in die yskas vir ongeveer een uur sodat die mousse kan stol. Neem nou ‘n donkersjokolade en maak skaafsels deur met ‘n aartappelskillertjie daaroor te trek. Haal die koppies uit die yskas, haal dit versigtig uit die foelie en versier met sjokolade  skaafsels.

Sunday 25 January 2015

Sjokoladekoek vir 'n koshuiskind

Ek is terug op Onderstepoort en my vierdejaar is alreeds goed aan die gang. Ek is so opgewonde om terug te wees. My dae bestaan nou grootliks uit klasdraf, leer en aande uithelp met die klein vulletjies in die hospitaal. Ek bly nou al vir al vier jaar van my studies in die koshuis, en vir vier jaar leef ek al van Woolworths se mikrogolf macaroni, Ma se kosblikkies vol huiskos en die koshuis se aaklige hoenderborsies en rys. So vir die volgende paar weke gaan ek ‘n paar mikrogolf resepte uittoets vir die koshuiskamer. Die eerste is ‘n Nutella sjokoladekoek in ‘n koppie. Dit is die perfekte bederf vir die laat aande agter die boeke.

Bestanddele:

4 eetlepels suiker
4 eetlepels bruismeel
3 eetlepels kakao
3 eetlepels melk
3 eetlepels kookolie
3 eetlepels Nutella
1 eier

Metode:


Meng al die bestanddele bymekaar in ‘n koppie. Maak seker dat jou koppie nie te klein is nie, anders gaan die mengsel oorloop in die mikrogolf. Plaas dit vir 1½ minuut in die mikrogolf en geniet! So maklik soos dit!