Ek is terug op Onderstepoort en my vierdejaar is alreeds
goed aan die gang. Ek is so opgewonde om terug te wees. My dae bestaan nou
grootliks uit klasdraf, leer en aande uithelp met die klein vulletjies in die
hospitaal. Ek bly nou al vir al vier jaar van my studies in die koshuis, en vir
vier jaar leef ek al van Woolworths se mikrogolf macaroni, Ma se kosblikkies
vol huiskos en die koshuis se aaklige hoenderborsies en rys. So vir die
volgende paar weke gaan ek ‘n paar mikrogolf resepte uittoets vir die
koshuiskamer. Die eerste is ‘n Nutella sjokoladekoek in ‘n koppie. Dit is die
perfekte bederf vir die laat aande agter die boeke.
Bestanddele:
4 eetlepels suiker
4 eetlepels bruismeel
3 eetlepels kakao
3 eetlepels melk
3 eetlepels kookolie
3 eetlepels Nutella
1 eier
Metode:
Meng al die bestanddele bymekaar in ‘n koppie. Maak seker
dat jou koppie nie te klein is nie, anders gaan die mengsel oorloop in die
mikrogolf. Plaas dit vir 1½ minuut in die mikrogolf en geniet! So maklik soos
dit!
No comments:
Post a Comment