Saturday 31 January 2015

Potjiekos

Ons het gister ons jaarlike Pot&Pons gehad by die koshuis. Huis Onderstepoort sn sluit in ‘n baie fun dag van swem, water slides, lekker musiek en potjie bou terwyl jy aan ‘n (baie sterk) glasie pons sluk. Dit is een van die lekkerste dae van die jaar!
Hierdie jaar was dit my beurt om ons pot te bou, en ek is ongelooflik trots om te sê dat ek dit op my eie bemeester het. Ja, sonder die hulp van ‘n man!
Aangesien ek nog nooit voorheen ‘n potjie gemaak het nie het my pa my verlede naweek geleer. Ek moes notas maak, die bestanddele versigtig saam hom afmeet, die stappe so paar keer van voor tot agter aan hom terugsê voor ek kon ry en gister elke nou en dan ‘n foto stuur om terug te rapporteer. Dit was duidelik dat ek by die beste geleer het want die potjie was ‘n groot sukses. Ek deel graag dan nou met julle my pa se resep. My pa se grootste geheim is om geen water by die pot te gooi nie.

Bestanddele: (Genoeg vir 10 mense)


15 ml kookolie
1½ ui, fyngekap
½ greenpepper
50 ml olyfolie
80 g botter
1t borrie
4 eetlepels mild kerriepoeier
3 kg skaapskenkels
Sout en peper
Groente van eie keuse
6 eetlepels Chutney
6 eetlepels tamatiesous
3 eetlepels worchestersous
500 ml room

Metode:


Smeer die binnekant van ‘n nommer 4 pot met kookolie uit. Plaas die pot oor die kole en los hom vir so ongeveer 15 minute om behoorlik warm te raak. Dit is belangrik dat jy baie warm kole hier moet gebruik. Sodra die pot die regte temperatuur bereik het moet jy die olyfolie en botter ingooi en die botter toelaat om te smelt. Braai nou die uie en greenpepper in die olie tot sag. Voeg die borrie en kerriepoeier by en roer dit goed deur. Nou kan jy jou vleis in die pot gooi. Plaas ‘n paar droë takkies onder die pot om vlammetjies te maak omdat jou pot nou goed warm moet wees. Meng die vleis met die uie en braai dit sodat die vleis net mooi bruin verkleur. Haal nou dadelik baie van die kole onder die pot uit sodat die vleis nie aanbrand nie. Jy wil omtrent 4 kole onder jou pot hou sodat dit stadig kook. Plaas nou die deksel op die pot en wag so ongeveer 20 minute voordat jy die eerste keer weer kyk. Roer die vleis stadig deur, maak seker dit brand nie, en voeg nou sout en peper by na smaak. Jou vleis behoort nou al sy eie sousie begin maak het, as dit nie het nie beteken dit nou kole is te warm. Net as dit ‘n noodgeval is kan jy nou ‘n halwe koppie water byvoeg...maar NET as dit ‘n noodgeval is! Plaas nou weer die deksel op en los die vleis vir nog ‘n uur om sag te word. Loer so elke 20 minute net om die temperatuur van jou kole te monitor. 

Nou kan jy jou groente in lae in die pot pak. Pak die groente wat die langste vat om sag te word eerste in. Maak die pot toe en los dit vir ‘n uur om sag te word, weereens moet jy jou kole monitor. Toets ook so een of twee keer of jy genoeg sout in die pot het. Wanneer alles in jou pot sag gekook het kan  jy jou ‘toorgoed’ (soos wat my pa dit noem) bygooi. Dit sluit in al die lekker goed soos die worchestersous, tamatiesous, chutney, room en mushroom sous. Roer nou jou pot versigtig deur. Sit die deksel op sodat die pot vir ‘n verdere 15 minute kan kook en begin almal nader roep om te kom eet. 

No comments:

Post a Comment