Monday 30 March 2015

Dodelike sjokolade kaaskoek met Bar-One ganache

Hierdie drie-sjokolade kaaskoek is die oorsaak dat my jeans bietjie stywer gesit het die afgelope maand...maar dit was heeltemal die moeitewerd! Hierdie is een van Sarie Kos se resepte wat ek so bietjie my eie gaan maak het. Dit lewer een kaaskoek van 25cm.

Bestanddele:


Kors:
200g Romany Creams beskuitjies
100g botter, gesmelt

Vulsel:
250ml room
100g 70%-donkersjokolade, fyngekap
100g melksjokolade, fyngekap
100g witsjokolade, fyngekap
750g roomkaas
1 blik (385g) kondensmelk
125ml strooisuiker
2 eiers
10ml vlapoeier

Ganache:
4x 55g Bar-One sjokoladestafies
100ml room

Metode:

Verhit die oond tot 160⁰C en spuit 'n 25cm losboom koekpan met kossproei. Kap die koekies fyn en meng die gesmelte botter in. Voer die bodem van die koekpan met die koekiemengsel uit en druk dit stewig vas. Plaas nou die pan in die yskas tot dit later weer benodig word.
Plaas die gekapte sjokolade in drie aparte bakke. Verhit die room tot kookpunt op die stoof. Verdeel nou die room tussen die drie bakke (sowat 80ml elk) en roer dit deur tot die sjokolade smelt. Laat dit dan eenkant om af te koel. 
Klits die roomkaas, kondensmelk, suiker, eiers en vlapoeier in 'n elektriese mengbak tot lig en romerig. Verdeel dit dan ook tussen jou drie sjokolade mengsels en meng dit goed.
Haal nou die koekpan weer uit die yskas. Gooi die donkersjokolade mengsel eerste in die koekpan, gevolg deur die witsjokolade mengsel en daarna die melksjokolade mengsel. Gooi die mengsels mooi in die middel van die pan sodat dit van daar versprei.
Bak dit vir 40 minute waarna jy die oond se temperatuur na 120⁰C kan verminder. Bak dit dan vir 'n verdere uur. Skakel die oond af en laat dit afkoel in die oond. 
Smelt die Bar-One stafies en die room saam oor lae hitte en roer dit gedurig. Laat dit afkoel totdat dit 'n dik sous vorm. Skep nou die mengsel oor die kaaskoek en verkoel dit oornag in die yskas. Verwyder die ring van die koekpan en graneer met sjokoladeskerwe en framboos.

Wenk: Hierdie kaaskoek word al hoe lekkerder hoe langer hy in die yskas staan. 




No comments:

Post a Comment