Sunday 5 June 2016

Heuning en Pistachio Nougat

Nougat is jare terug aan ons gegee deur die Franse en het nou al verskillende name en vorme aangeneem. Maar of jy dit nou nougat, torrone, mondolato of gaz wil noem bly dit ‘n gunsteling reg oor die wêreld. Met die regte toerusting is nougat verbasend eenvoudig om te maak. En glo my, tuisgemaakte nougat is sommer baie lekkerder en goedkoper as die wat jy in die winkel sal koop.


Spesiale benodighede:

‘n 23cm x 23cm koekpan
Swaarboom pot (As jou pot te dun is sal die stroop aanbrand)
Eletriese menger (‘n Staanmenger werk die beste)

 Bestanddele:

3 koppies strooisuiker
1 koppie heuning
3 eierwitte
½ koppie versiersuiker
Ongeveer 3 velle ryspapier
1 ½ koppie Pistachioneute, uit die dop (Jy kan ook ander neute van jou keuse gebruik)
180g goeie kwaliteit donkersjokolade (opsioneel)


Metode:

1.       Kalibreer jou thermometer sodat dit kookwater as 100⁰C aandui. Meet die temperatuur terwyl die water in n potjie op die stoof kook.
2.       Spuit die pan goed uit met kleefwerende kossproei en bedek die bodem met ryspapier. Moenie dat die velle ryspapier oorvleuel nie want anders gaan jy sukkel om dit later te sny.
3.       Verhit die strooisuiker en heuning saam in ‘n swaarboom pot oor lae hitte en meng tot al die suiker gesmelt het.
4.       Vehoog nou die temperatuur na medium en los die mengsel om te kook tot dit ‘n temperatuur van 158⁰C bereik. Moenie die mengsel tydens hierdie stap roer nie.
5.       Terwyl die mengsel kook, klits die eierwitte in ‘n elektriese menger tot dit stywe punte vorm. Voeg dan die versiersuiker by en meng verder.
6.        Wanneer die suiker 158⁰C bereik, verwyder dit onmiddelik van die hitte laat dit vir 1-2 minute eenkant staan om af te koel tot ‘n temperatuur van 145⁰C.
7.       Voeg nou die warm suiker mengsel by die eierwitte terwyl jy dit in die elektriese mengsel meng. Die mengsel sal begin verdik en ‘n ligte bruin kleur aanneem. Die mengsel moet dik word, maar nie te dik sodat jy gaan sukkel om die neute in te vou nie. Vou dan die neute in.
8.       Skep nou die taai mengsel in die pan, skraap dit gelyk en bedek die bokant met nog ryspapier.
9.       Plaas nou die pan eenkant vir ongeveer 12 ure om by kamertemperatuur te stol.
10.   Keer dan die blok uit en sny dit in blokkies met ‘n warm mes.

11.   Hier kan jy nou die sjokolade smelt en die blokkies daarin doop. Plaas op waspapier om tot die sjokolade gestol het.

Stoor die nougat in 'n lugdigte houer en bedek die blokkies met cellofaan as jy dit vir langer as 'n dag wil stoor sodat dit nie te taai word nie. 

Geniet dit!

No comments:

Post a Comment