Kolwyntjies met dié lekkerste malvalekker versiersel...
Paastyd is een van my gunsteling tye van die jaar! Hierdie
tyd is gevul met die reuk van vars hot cross buns wat in die huis hang, bokse
en bokse vol paaseiers en kerkdienste waar my ma uiteindelik die geleentheid
kry om Houtkruis uit volle bors te sing sonder dat iemand vir haar staar.
Hierdie jaar wou ek graag Paastyd gebruik om iets doen om bietjie terug te gee aan die gemeenskap.
Ek het besluit om hierdie kolwyntjies te bak vir ons plaaslike ouetehuis.
Hierdie is ‘n nuwe versiersel resep wat ek probeer het en ek is MAL daaroor. Ek
was nog nooit lief vir swaar versiersuiker nie, so hierdie lig en romerige
versiering is volgens my die perfekte afronding vir enige kolwyntjie en
defnitief iets om te onthou.
Bestanddele:
1 boks kolwyntjiemengsel (sjokolade of vanilla)
2 eierwitte
½ koppie suiker
1 knippie sout
½ teelepel vanieljegeursel
1 donkersjokolade blok
2 klein pakkies Speckled Eggs
Metode:
Ek het so bietjie gekroek met die resep en sommer ‘ n boks
aanmaak kolwyntjiemengsel gekoop. Volg die instruksies op die boks en laat die
kolwyntjies eenkant om aft e koel.
Trek ‘n skinkbord met waspapier oor. Smelt die donkersjokolade
in die mikrogolfoond en gebruik ‘n mes om die sjokolade in strepe oor mekaar te
laat loop op die waspapier. Trek die strepe in verskillende rigtings en bo-oor
mekaar sodat dit ‘n web vorm. Plaas die skinkbord in die yskas sodat die
sjokolade kan stol.
Versiersel:
Klits die eierwitte, suiker en sout oor matige
hitte in ‘n dubbelkoker tot die suiker gesmelt het. (Dit neem so ongeveer 5
minute). Plaas nou die mengsel in ‘n elektriese mengbak en klits dit teen hoë
spoed vir ongeveer 3 minute. Voeg die vanieljegeursel by terwyl jy klits.
Verdeel die versiersel tussen die kolwyntjies en versprei
dit mooi. Breek nou van die gesmelte sjokolade af en plaas dit op die
kolwyntjie om ‘n nessie te vorm. Rond dit af deur drie Speckled Eggs op elke
nessie te plaas.