Friday 5 February 2016

Oreo kaaskoek

Hierdie is een van my gunsteling resepte sover en het vir 'n klomp koffie-en-koek koshuiskuiers gesorg hierdie week. Ek het my Tannie Bessie se kaaskoek resep gebruik en hom bietjie opgedollie met Oreo sjokolade mousse en sjokolade ganache. My swaer werk vir Mondelez en het nou die dag vir ons 'n klomp Oreo sjokolade slabs gebring. Jip, my sussie het sommer BAIE slim getrou!! Ek vind soms dat sjokolade kaaskoek oorweldigend soet is, so ek het my resep 'n bietjie meer lig en romerig gemaak. Gebruik 'n diep tertbak vir hierdie resep. Probeer hom asseblief!



Bestanddele: 

Kors:
1 pakkie Marie beskuitjies
100g ongesoute botter, gesmelt
2 eetlepels strooisuiker

Vulsel:
1 blik kondensmelk
½ suurlemoen se sap
500g Lancewood Cream Cottage Cheese
30ml koue water
20ml gelatien
250ml room, styfgeklop

Mousse:
500ml room, styfgeklop
90g Oreo sjokolade 

Ganache:
30ml room
150g Oreo sjokolade 
2 eetlepels Nutella (opsioneel)

Metode:


Rol die beskuitjies fyn met ‘n koekroller, voeg die strooisuiker en gesmelte botter by. Vul jou tertbak met ‘n laag van omtrent ½cm en druk dit plat met die agterkant van ‘n teelepel. Plaas jou bak in die oond vir 5 minute by 180⁰C. Haal dit uit die oond en laat dit behoorlik afkoel.

Maak jou vulsel aan. Meng die kondensmelk, suurlemoensap en roomkaas saam in ‘n elektriese mengbak tot ‘n gladde mengsel vorm. Strooi nou die gelatien oor die koue water en meng dit goed. Plaas nou die gelatien in die mikrogolf vir tien sekondes en roer dit dadelik weer goed deur. Herhaal dit 2-3 keer totdat jou gelatien goed opgelos is en jou mengsel warm is. Meng dit nou dadelik by jou mengsel in die elektriese mengbak. Dit is belangrik dat jou gelatien mengsel nie kook nie en ook nie stol nie. Vou nou jou styfgeklopte room by die mengsel in. Vul jou tertbak so net oor die halfpad vol met die mengsel en plaas dit in die yskas tot dit begin stol. 

Klop die room vir jou mousse styf en smelt die Oreo sjokolade in 'n dubbelkoker. Laat die sjokolade effens afkoel, maar moenie dat dit stol nie. Vou dit nou by jou room in en skep dit oor die kaaskoek. Plaas dit terug in die yskas en los dit om oornag te stol. 

Smelt die sjokolade vir die ganache in 'n dubbelkoker. Voeg die Nutella en die room by en meng dit aanhoudend tot dit alles gesmelt is. Verwyder die mengsel van die hitte en hou aan om dit te meng, ek plaas hier gewoonlik dan my bak oor 'n bak ys om tyd te spaar. As die mengsel die tekstuur van dik vla bereik is dit reg om oor jou kaaskoek te gooi. Gooi dit bietjies-bietjies oor en versprei dit liggies met 'n lepel sodat dit die hele kaaskoek dek. Plaas dit terug in die yskas en bedien as die ganache gestol het. 


No comments:

Post a Comment