Ons het gister ons jaarlike Pot&Pons gehad by die
koshuis. Huis Onderstepoort sn sluit in ‘n baie fun dag van swem, water slides,
lekker musiek en potjie bou terwyl jy aan ‘n (baie sterk) glasie pons sluk. Dit
is een van die lekkerste dae van die jaar!
Hierdie jaar was dit my beurt om ons
pot te bou, en ek is ongelooflik trots om te sê dat ek dit op my eie bemeester
het. Ja, sonder die hulp van ‘n man!
Aangesien ek nog nooit voorheen ‘n potjie
gemaak het nie het my pa my verlede naweek geleer. Ek moes notas maak, die
bestanddele versigtig saam hom afmeet, die stappe so paar keer van voor tot
agter aan hom terugsê voor ek kon ry en gister elke nou en dan ‘n foto stuur om
terug te rapporteer. Dit was duidelik dat ek by die beste geleer het want die
potjie was ‘n groot sukses. Ek deel graag dan nou met julle my pa se resep. My
pa se grootste geheim is om geen water by die pot te gooi nie.
Bestanddele: (Genoeg vir 10 mense)
15 ml kookolie
1½ ui, fyngekap
½ greenpepper
50 ml olyfolie
80 g botter
1t borrie
4 eetlepels mild kerriepoeier
3 kg skaapskenkels
Sout en peper
Groente van eie keuse
6 eetlepels Chutney
6 eetlepels tamatiesous
3 eetlepels worchestersous
500 ml room
1 pakkie Dennie Bacon and Mushroom sous
Metode:
Smeer die binnekant van ‘n nommer 4 pot met kookolie uit.
Plaas die pot oor die kole en los hom vir so ongeveer 15 minute om behoorlik
warm te raak. Dit is belangrik dat jy baie warm kole hier moet gebruik. Sodra
die pot die regte temperatuur bereik het moet jy die olyfolie en botter ingooi
en die botter toelaat om te smelt. Braai nou die uie en greenpepper in die olie
tot sag. Voeg die borrie en kerriepoeier by en roer dit goed deur. Nou kan jy
jou vleis in die pot gooi. Plaas ‘n paar droë takkies onder die pot om
vlammetjies te maak omdat jou pot nou goed warm moet wees. Meng die vleis met
die uie en braai dit sodat die vleis net mooi bruin verkleur. Haal nou dadelik
baie van die kole onder die pot uit sodat die vleis nie aanbrand nie. Jy wil
omtrent 4 kole onder jou pot hou sodat dit stadig kook. Plaas nou die deksel op
die pot en wag so ongeveer 20 minute voordat jy die eerste keer weer kyk. Roer
die vleis stadig deur, maak seker dit brand nie, en voeg nou sout en peper by
na smaak. Jou vleis behoort nou al sy eie sousie begin maak het, as dit nie het
nie beteken dit nou kole is te warm. Net as dit ‘n noodgeval is kan jy nou ‘n
halwe koppie water byvoeg...maar NET as dit ‘n noodgeval is! Plaas nou weer die
deksel op en los die vleis vir nog ‘n uur om sag te word. Loer so elke 20
minute net om die temperatuur van jou kole te monitor.
Nou kan jy jou groente
in lae in die pot pak. Pak die groente wat die langste vat om sag te word
eerste in. Maak die pot toe en los dit vir ‘n uur om sag te word, weereens moet
jy jou kole monitor. Toets ook so een of twee keer of jy genoeg sout in die pot
het. Wanneer alles in jou pot sag gekook het kan jy jou ‘toorgoed’ (soos wat my pa dit noem)
bygooi. Dit sluit in al die lekker goed soos die worchestersous, tamatiesous,
chutney, room en mushroom sous. Roer nou jou pot versigtig deur. Sit die deksel
op sodat die pot vir ‘n verdere 15 minute kan kook en begin almal nader roep om
te kom eet.