Sunday, 5 June 2016

Heuning en Pistachio Nougat

Nougat is jare terug aan ons gegee deur die Franse en het nou al verskillende name en vorme aangeneem. Maar of jy dit nou nougat, torrone, mondolato of gaz wil noem bly dit ‘n gunsteling reg oor die wêreld. Met die regte toerusting is nougat verbasend eenvoudig om te maak. En glo my, tuisgemaakte nougat is sommer baie lekkerder en goedkoper as die wat jy in die winkel sal koop.


Spesiale benodighede:

‘n 23cm x 23cm koekpan
Swaarboom pot (As jou pot te dun is sal die stroop aanbrand)
Eletriese menger (‘n Staanmenger werk die beste)

 Bestanddele:

3 koppies strooisuiker
1 koppie heuning
3 eierwitte
½ koppie versiersuiker
Ongeveer 3 velle ryspapier
1 ½ koppie Pistachioneute, uit die dop (Jy kan ook ander neute van jou keuse gebruik)
180g goeie kwaliteit donkersjokolade (opsioneel)


Metode:

1.       Kalibreer jou thermometer sodat dit kookwater as 100⁰C aandui. Meet die temperatuur terwyl die water in n potjie op die stoof kook.
2.       Spuit die pan goed uit met kleefwerende kossproei en bedek die bodem met ryspapier. Moenie dat die velle ryspapier oorvleuel nie want anders gaan jy sukkel om dit later te sny.
3.       Verhit die strooisuiker en heuning saam in ‘n swaarboom pot oor lae hitte en meng tot al die suiker gesmelt het.
4.       Vehoog nou die temperatuur na medium en los die mengsel om te kook tot dit ‘n temperatuur van 158⁰C bereik. Moenie die mengsel tydens hierdie stap roer nie.
5.       Terwyl die mengsel kook, klits die eierwitte in ‘n elektriese menger tot dit stywe punte vorm. Voeg dan die versiersuiker by en meng verder.
6.        Wanneer die suiker 158⁰C bereik, verwyder dit onmiddelik van die hitte laat dit vir 1-2 minute eenkant staan om af te koel tot ‘n temperatuur van 145⁰C.
7.       Voeg nou die warm suiker mengsel by die eierwitte terwyl jy dit in die elektriese mengsel meng. Die mengsel sal begin verdik en ‘n ligte bruin kleur aanneem. Die mengsel moet dik word, maar nie te dik sodat jy gaan sukkel om die neute in te vou nie. Vou dan die neute in.
8.       Skep nou die taai mengsel in die pan, skraap dit gelyk en bedek die bokant met nog ryspapier.
9.       Plaas nou die pan eenkant vir ongeveer 12 ure om by kamertemperatuur te stol.
10.   Keer dan die blok uit en sny dit in blokkies met ‘n warm mes.

11.   Hier kan jy nou die sjokolade smelt en die blokkies daarin doop. Plaas op waspapier om tot die sjokolade gestol het.

Stoor die nougat in 'n lugdigte houer en bedek die blokkies met cellofaan as jy dit vir langer as 'n dag wil stoor sodat dit nie te taai word nie. 

Geniet dit!

Wednesday, 18 May 2016

Bierboks sjokoladekoek

Hierdie sjokoladekoek gaan jou laat terug verlang na jou eie kinderdae. Die ideale, maklike resep om neer te skryf vir verjaarsdagpartytjies.
Hierdie koek kan in ‘n bierboks of 'n oondpan gemaak word binne twee ure. Daar kan ongeveer 25 blokkies uit hierdie koek gesny word.



Bestanddele:

2 koppies meel
2 koppies suiker
1 koppie kookwater
½ koppie kookoilie
¼ koppie kakaopoeier
125g botter
½ koppie karringmelk
2 eiers
½ teelepel koeksoda
½ teelepel vanieljegeursel
1 blikkie Ideal melk
½ koppie bruinsuiker
180g sjokolade van jou eie keuse (ek het Cadbury se wholenut gebruik)
Opsioneel: Ekstra ‘sprinkles’, koekies of lekkers om die koek te versier.
WENK: As jy nie karringmelk in die huis het nie: Meng ½ koppie melk en 1 teelepel wit asyn saam en laat dit eenkant staan vir 5 minute.

Metode:

1.       Voorverhit die oond tot 180⁰C.
2.       Voer die bierboks of oondpan uit met foelie. Die blink kant van die foelie moet boontoe wys. As jy ‘n bierboks gebruik, gebruik ‘n krambinder op die hoeke van die boks vir ingeval die gom in die warm oond smelt.
3.       Sif die meel in ‘n mengbak, gooi die suiker by en meng saam.
4.       Meng die water, olie, botter en kakao saam in ‘n klein kastrol en bring tot kook.
5.       Gooi die warm mengsel by die meel en suiker en meng goed saam. Maak seker daar is geen klonte nie.
6.       Meng die karringmelk, eiers, vanielje en koeksoda saam in ‘n mengbak en voeg dit dan by die mengsel.
7.       Meng alles goed saam.
8.       Gooi die mengsel in die pan of boks.
9.       Bak vir 20-25 minute of tot ‘n toetspen/mes skoon uitkom wanneer dit daarin gedruk word.
10.   Terwyl die koek bak, plaas  van die blikke Ideal-melk en bruinsuiker in ‘n klein kastrol en bring tot kook sodat die suiker smelt. Gooi die mengsel oor die warm koek sodra dit uit die oond kom.
11.   Laat eenkant om af te koel.

12.   Wanneer die koek afgekoel het, plaas die sjokolade en die laaste  van die blikkie Ideal melk in ‘n klein kastrol oor lae hitte tot die sjokolade gesmelt het. Gooi die sjokolade oor die koek en laat dit afkoel.

Saturday, 30 April 2016

Tuisgemaakte Amarula karamelsous

Bestanddele:

1 koppie suiker
60g botter
60ml Amarula
125ml room

Metode:

Gooi die suiker, botter en Amarula saam in 'n kastrol. Plaas dit op die stoof oor matige hitte en roer dit gereeld met 'n houtlepel tot al die suiker behoorlik opgelos het. Wees versigtig om te brand, die mengsel word baie warm. Haal nou die kastrol van die hitte af. Gooi die room bietjies-bietjies by die karamel en roer aanhoudend. Laat die sous eenkant om heeltemal af te koel en bedien. 

Jy kan hierdie sous in 'n bottel hou op jou rak vir ongeveer twee weke. 

Saturday, 27 February 2016

Gestolde pynappelslaai

Hierdie is nog een van daardie resepte wat ons altyd maak as die familie bymekaar is. As jy die slaai in 'n nagereg verander, koop vir jou 'n swiss roll by jou naaste winkel, sny hom in skywe, en pak dit in 'n laag aan die onderkant van jou tertbak voordat jy die mengsel daaroor skep.


Bestanddele:

1 blik Pineapple Crush
2 eetlepels gelatien (ek verkies om net een eetlepel te gebruik as ek dit in 'n tertbak maak)
Sout
½ koppie suiker
1 eetlepel suurlemoensap
1 koppie room, styfgeklop
1 koppie roomkaas/maaskaas
1 koppie fyngekapte neute

Metode:

Maak die blik pynappel warm en los die gelatien daarin op. Voeg 'n knippie sout by en roer dit tot opgelos. Voeg nou die suiker en suurlemoensap by en roer dit tot opgelos. Laat dit eenkant om af te koel. Meng dan die roomkaas/maaskaas by en vou die styfgeklopte room in. Gooi die mengsel in 'n tertbak of gietvorm van jou keuse en sprinkel die fyngekapte neute oor. Plaas in die yskas om oornag te stol.

WENK: Vir 'n heerlike nagereg, plaas skywe swiss roll onder in die tertbak.

Friday, 5 February 2016

Pastaslaai

Ek is nie oor die algemeen iemand wat lief is vir vreemde kos nie. Ek verkies alles eenvoudig, geen frilletjies en fraaitjies nie. Ek het nog nooit voorheen pastaslaai geeëet nie, want as die familie bymekaar kom is Tannie Koek se pastaslaai altyd so toegegooi onder die rou uie dat ek maar liefs net verbyhou.

My een vriendin het vir ons haar resep gemaak vir ons vakansie in Mosambiek so paar weke terug. Ek het dit nou al twee keer self vir ons by die huis gemaak. Dit is vrek lekker en die ideale middagete. Baie dankie liefste vriendin, Francoisné, dat ek jou lekker resep mag deel.

Bestanddele:

500g noodles
1 ui, fyngekap (opsioneel)
1 green pepper, fyngekap (opsioneel)
Sous:
250ml tamatiesous
25ml kerriepoeier
160g suiker
7ml sout
125ml olie (nie olyfolie nie)
125ml wit asyn
2ml peper
5ml Tabasco sous

Metode:

Kook die noodles tot amper al dente(gaar maar ferm) en spoel dit af onder koue water. Meng al die bestanddele van die sous saam in 'n klein potjie en bring dit tot kookpunt op die stoof. Laat die sous effens afkoel en gooi dit dan oor die noodles. Plaas dit in die yskas oornag
en skud die bak goed elke keer wat jy by verbyloop.

Oreo kaaskoek

Hierdie is een van my gunsteling resepte sover en het vir 'n klomp koffie-en-koek koshuiskuiers gesorg hierdie week. Ek het my Tannie Bessie se kaaskoek resep gebruik en hom bietjie opgedollie met Oreo sjokolade mousse en sjokolade ganache. My swaer werk vir Mondelez en het nou die dag vir ons 'n klomp Oreo sjokolade slabs gebring. Jip, my sussie het sommer BAIE slim getrou!! Ek vind soms dat sjokolade kaaskoek oorweldigend soet is, so ek het my resep 'n bietjie meer lig en romerig gemaak. Gebruik 'n diep tertbak vir hierdie resep. Probeer hom asseblief!



Bestanddele: 

Kors:
1 pakkie Marie beskuitjies
100g ongesoute botter, gesmelt
2 eetlepels strooisuiker

Vulsel:
1 blik kondensmelk
½ suurlemoen se sap
500g Lancewood Cream Cottage Cheese
30ml koue water
20ml gelatien
250ml room, styfgeklop

Mousse:
500ml room, styfgeklop
90g Oreo sjokolade 

Ganache:
30ml room
150g Oreo sjokolade 
2 eetlepels Nutella (opsioneel)

Metode:


Rol die beskuitjies fyn met ‘n koekroller, voeg die strooisuiker en gesmelte botter by. Vul jou tertbak met ‘n laag van omtrent ½cm en druk dit plat met die agterkant van ‘n teelepel. Plaas jou bak in die oond vir 5 minute by 180⁰C. Haal dit uit die oond en laat dit behoorlik afkoel.

Maak jou vulsel aan. Meng die kondensmelk, suurlemoensap en roomkaas saam in ‘n elektriese mengbak tot ‘n gladde mengsel vorm. Strooi nou die gelatien oor die koue water en meng dit goed. Plaas nou die gelatien in die mikrogolf vir tien sekondes en roer dit dadelik weer goed deur. Herhaal dit 2-3 keer totdat jou gelatien goed opgelos is en jou mengsel warm is. Meng dit nou dadelik by jou mengsel in die elektriese mengbak. Dit is belangrik dat jou gelatien mengsel nie kook nie en ook nie stol nie. Vou nou jou styfgeklopte room by die mengsel in. Vul jou tertbak so net oor die halfpad vol met die mengsel en plaas dit in die yskas tot dit begin stol. 

Klop die room vir jou mousse styf en smelt die Oreo sjokolade in 'n dubbelkoker. Laat die sjokolade effens afkoel, maar moenie dat dit stol nie. Vou dit nou by jou room in en skep dit oor die kaaskoek. Plaas dit terug in die yskas en los dit om oornag te stol. 

Smelt die sjokolade vir die ganache in 'n dubbelkoker. Voeg die Nutella en die room by en meng dit aanhoudend tot dit alles gesmelt is. Verwyder die mengsel van die hitte en hou aan om dit te meng, ek plaas hier gewoonlik dan my bak oor 'n bak ys om tyd te spaar. As die mengsel die tekstuur van dik vla bereik is dit reg om oor jou kaaskoek te gooi. Gooi dit bietjies-bietjies oor en versprei dit liggies met 'n lepel sodat dit die hele kaaskoek dek. Plaas dit terug in die yskas en bedien as die ganache gestol het. 


Friday, 25 December 2015

Bosveld patats met Amarula


Uiteindelik het ek weer tyd om te blog! Hierdie jaar was een van my besigste nog en ek het vinnig besef dat hierdie blog storie iets is waarvoor mens baie tyd moet hê. Die resepte het opgegaar en nou het ek sommer baie lekker dinge om weer met julle te deel.

Ek is verbaas met hoeveel daar in 'n enkele jaar kan gebeur. Eerstens kan ek met trots aankondig dat ek my vierdejaar van veeartsenykunde geslaag het en nou net nog twee jaar se studies oor het. My een dosent spot dat ons nou al maar die dokter titel met 'n klein lettertjie 'd' voor ons name mag begin byvoeg. Ek het hierdie jaar ook 'n swaer ryker geword en die gewig van my eerstejaarsindroom afgeskud. En dan het my pa ook vir ons die mooiste plaas gekoop in die Waterberge, tussen Vaalwater en Nylstroom. Dit is ons eie stukkie paradys! My pa het groot geword op 'n plaas wat verkoop is toe hy tien was, en van toe af droom hy al om eendag sy eie stukkie grond te hê. Dis nou veertig jaar later en uiteindelik kan my pa sy groot droom leef. Nodeloos om te sê, ons spandeer nou elke oomblik wat ons moontlik kan daar!

Dis daaroor dat ek besluit het om sommer eerste my bosveld patats met Amarula met julle te deel. Dit is een van ons gunstelinge saam braaivleis. Ek kan belowe dat hierdie altyd 'n treffer gaan wees.

Benodighede: 

Patats
Amarula
Bruinsuiker
Botter
Foelie

Metode:

Sny die patats in skywe en pak dit in lae op 'n vel foelie. Ek verkies om die skil aan te hou omdat dit baie mooi lyk as die patats gaar is. Voeg die botter, bruinsuiker en Amarula by na smaak (moenie skaam wees nie). Maak die foelie mooi toe en sit dit op medium-warm kole vir 35-40 minute tot gaar.