Monday, 30 March 2015

Dodelike sjokolade kaaskoek met Bar-One ganache

Hierdie drie-sjokolade kaaskoek is die oorsaak dat my jeans bietjie stywer gesit het die afgelope maand...maar dit was heeltemal die moeitewerd! Hierdie is een van Sarie Kos se resepte wat ek so bietjie my eie gaan maak het. Dit lewer een kaaskoek van 25cm.

Bestanddele:


Kors:
200g Romany Creams beskuitjies
100g botter, gesmelt

Vulsel:
250ml room
100g 70%-donkersjokolade, fyngekap
100g melksjokolade, fyngekap
100g witsjokolade, fyngekap
750g roomkaas
1 blik (385g) kondensmelk
125ml strooisuiker
2 eiers
10ml vlapoeier

Ganache:
4x 55g Bar-One sjokoladestafies
100ml room

Metode:

Verhit die oond tot 160⁰C en spuit 'n 25cm losboom koekpan met kossproei. Kap die koekies fyn en meng die gesmelte botter in. Voer die bodem van die koekpan met die koekiemengsel uit en druk dit stewig vas. Plaas nou die pan in die yskas tot dit later weer benodig word.
Plaas die gekapte sjokolade in drie aparte bakke. Verhit die room tot kookpunt op die stoof. Verdeel nou die room tussen die drie bakke (sowat 80ml elk) en roer dit deur tot die sjokolade smelt. Laat dit dan eenkant om af te koel. 
Klits die roomkaas, kondensmelk, suiker, eiers en vlapoeier in 'n elektriese mengbak tot lig en romerig. Verdeel dit dan ook tussen jou drie sjokolade mengsels en meng dit goed.
Haal nou die koekpan weer uit die yskas. Gooi die donkersjokolade mengsel eerste in die koekpan, gevolg deur die witsjokolade mengsel en daarna die melksjokolade mengsel. Gooi die mengsels mooi in die middel van die pan sodat dit van daar versprei.
Bak dit vir 40 minute waarna jy die oond se temperatuur na 120⁰C kan verminder. Bak dit dan vir 'n verdere uur. Skakel die oond af en laat dit afkoel in die oond. 
Smelt die Bar-One stafies en die room saam oor lae hitte en roer dit gedurig. Laat dit afkoel totdat dit 'n dik sous vorm. Skep nou die mengsel oor die kaaskoek en verkoel dit oornag in die yskas. Verwyder die ring van die koekpan en graneer met sjokoladeskerwe en framboos.

Wenk: Hierdie kaaskoek word al hoe lekkerder hoe langer hy in die yskas staan. 




Saturday, 31 January 2015

Potjiekos

Ons het gister ons jaarlike Pot&Pons gehad by die koshuis. Huis Onderstepoort sn sluit in ‘n baie fun dag van swem, water slides, lekker musiek en potjie bou terwyl jy aan ‘n (baie sterk) glasie pons sluk. Dit is een van die lekkerste dae van die jaar!
Hierdie jaar was dit my beurt om ons pot te bou, en ek is ongelooflik trots om te sê dat ek dit op my eie bemeester het. Ja, sonder die hulp van ‘n man!
Aangesien ek nog nooit voorheen ‘n potjie gemaak het nie het my pa my verlede naweek geleer. Ek moes notas maak, die bestanddele versigtig saam hom afmeet, die stappe so paar keer van voor tot agter aan hom terugsê voor ek kon ry en gister elke nou en dan ‘n foto stuur om terug te rapporteer. Dit was duidelik dat ek by die beste geleer het want die potjie was ‘n groot sukses. Ek deel graag dan nou met julle my pa se resep. My pa se grootste geheim is om geen water by die pot te gooi nie.

Bestanddele: (Genoeg vir 10 mense)


15 ml kookolie
1½ ui, fyngekap
½ greenpepper
50 ml olyfolie
80 g botter
1t borrie
4 eetlepels mild kerriepoeier
3 kg skaapskenkels
Sout en peper
Groente van eie keuse
6 eetlepels Chutney
6 eetlepels tamatiesous
3 eetlepels worchestersous
500 ml room

Metode:


Smeer die binnekant van ‘n nommer 4 pot met kookolie uit. Plaas die pot oor die kole en los hom vir so ongeveer 15 minute om behoorlik warm te raak. Dit is belangrik dat jy baie warm kole hier moet gebruik. Sodra die pot die regte temperatuur bereik het moet jy die olyfolie en botter ingooi en die botter toelaat om te smelt. Braai nou die uie en greenpepper in die olie tot sag. Voeg die borrie en kerriepoeier by en roer dit goed deur. Nou kan jy jou vleis in die pot gooi. Plaas ‘n paar droë takkies onder die pot om vlammetjies te maak omdat jou pot nou goed warm moet wees. Meng die vleis met die uie en braai dit sodat die vleis net mooi bruin verkleur. Haal nou dadelik baie van die kole onder die pot uit sodat die vleis nie aanbrand nie. Jy wil omtrent 4 kole onder jou pot hou sodat dit stadig kook. Plaas nou die deksel op die pot en wag so ongeveer 20 minute voordat jy die eerste keer weer kyk. Roer die vleis stadig deur, maak seker dit brand nie, en voeg nou sout en peper by na smaak. Jou vleis behoort nou al sy eie sousie begin maak het, as dit nie het nie beteken dit nou kole is te warm. Net as dit ‘n noodgeval is kan jy nou ‘n halwe koppie water byvoeg...maar NET as dit ‘n noodgeval is! Plaas nou weer die deksel op en los die vleis vir nog ‘n uur om sag te word. Loer so elke 20 minute net om die temperatuur van jou kole te monitor. 

Nou kan jy jou groente in lae in die pot pak. Pak die groente wat die langste vat om sag te word eerste in. Maak die pot toe en los dit vir ‘n uur om sag te word, weereens moet jy jou kole monitor. Toets ook so een of twee keer of jy genoeg sout in die pot het. Wanneer alles in jou pot sag gekook het kan  jy jou ‘toorgoed’ (soos wat my pa dit noem) bygooi. Dit sluit in al die lekker goed soos die worchestersous, tamatiesous, chutney, room en mushroom sous. Roer nou jou pot versigtig deur. Sit die deksel op sodat die pot vir ‘n verdere 15 minute kan kook en begin almal nader roep om te kom eet. 

Wednesday, 28 January 2015

Nutella kaaskoek mousse koppies

Bestanddele

 200 g melksjokolade
120 ml roomkaas
½ koppie strooisuiker
⅔ koppie Nutella
½ teelepel vanieljegeursel
1 houer (250ml) Orley Whip

Metode

Gebruik foelie muffin houertjies om die sjokolade koppies te vorm. In ‘n dubbelkoker, laat die melksjokolade smelt. Voer nou elke houertjie met ‘n dun lagie sjokolade uit en laat dit stol voor jy die volgende laag byvoeg. Plaas die koppies in die yskas.

Klop die roomkaas in ‘n elektriese mengbak tot sag. Voeg die strooisuiker, Nutella en vanielje by tot die mengsel glad is. Klop nou die Orley Whip in ‘n aparte bak styf en vou dit dan by die Nutella mengsel in.

Vul nou elke sjokolade koppie met mousse. Plaas dit in die yskas vir ongeveer een uur sodat die mousse kan stol. Neem nou ‘n donkersjokolade en maak skaafsels deur met ‘n aartappelskillertjie daaroor te trek. Haal die koppies uit die yskas, haal dit versigtig uit die foelie en versier met sjokolade  skaafsels.

Sunday, 25 January 2015

Sjokoladekoek vir 'n koshuiskind

Ek is terug op Onderstepoort en my vierdejaar is alreeds goed aan die gang. Ek is so opgewonde om terug te wees. My dae bestaan nou grootliks uit klasdraf, leer en aande uithelp met die klein vulletjies in die hospitaal. Ek bly nou al vir al vier jaar van my studies in die koshuis, en vir vier jaar leef ek al van Woolworths se mikrogolf macaroni, Ma se kosblikkies vol huiskos en die koshuis se aaklige hoenderborsies en rys. So vir die volgende paar weke gaan ek ‘n paar mikrogolf resepte uittoets vir die koshuiskamer. Die eerste is ‘n Nutella sjokoladekoek in ‘n koppie. Dit is die perfekte bederf vir die laat aande agter die boeke.

Bestanddele:

4 eetlepels suiker
4 eetlepels bruismeel
3 eetlepels kakao
3 eetlepels melk
3 eetlepels kookolie
3 eetlepels Nutella
1 eier

Metode:


Meng al die bestanddele bymekaar in ‘n koppie. Maak seker dat jou koppie nie te klein is nie, anders gaan die mengsel oorloop in die mikrogolf. Plaas dit vir 1½ minuut in die mikrogolf en geniet! So maklik soos dit! 

Monday, 29 December 2014

Melktertnessies


Uiteindelik is daar weer tyd vir bak! Ek het die afgelope maand saam my ouers op vakansie spandeer. Ons was op ‘n eiland vakansie waar my dae grootliks uit swem, cocktails drink, lag saam my sussie en chocolate mousse uit bestaan het. Dit was ons gesin se heel laaste vakansie saam as die vier Stoffbergies, want Junie hou ons troue...ja, my sussie is uiteindelik VERLOOF!! So vir die volgende paar maande gaan ek my beste probeer om my resepte so “gewigsvriendelik” as moontlik te hou, net vir die strooimeisierok se onthalwe. Tata sjokolade en hello vetvrye melk! Om te begin het ek vandag se resep aangepas uit my ma se Soet en Sout Gebak vir Volgehoue Energie 1. Die volgende resep lewer ongeveer 20 melktertnessies.


Bestanddele:


3 filodeegvelle
1 liter vetvrye melk
2.5ml sout
125ml suiker
30ml koekmeel
60ml mielieblom
15ml vlapoeier
3 ekstra groot eiers, geklop
5ml vanieljegeursel
5ml fyn kaneel

Metode:

Voorverhit die oond tot 180⁰C. Sny elke filodeeg vel in 12 vierkante. Voer elke holte van ‘n kolwyntjiepan met twee vierkante uit. Verf die vierkante liggies met botter om hulle aanmekaar te laat kleef en laat hulle met mekaar oorvleuel om ‘n nessie te vorm. Laat ‘n groot genoeg holte vir die vulsel. Plaas die nessies in die oond em bak vir 10 minute tot ligbruin. Wees versigtig hier want die deeg verbruin baie vinnig. Haal dit uit die oond en laat dit eenkant.


Verhit melk oor matige hitte in ‘n groot kastrol. Meng al die droë bestanddele in ‘n klein mengbak. Voeg die eiers en ‘n klein bietjie melk, indien nodig, by om ‘n pasta te vorm. Sodra die melk kook, giet bietjie oor die meel-en-eiermengsel  en roer vinnig. Giet die meel-en-eiermengsel in die kastrol en roer aanhoudend met ‘n handklitser oor matige hitte tot verdik. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel in. Wees versigtig dat die melk nie aanbrand nie. Laat afkoel vir 15 minute. Skep 4 eetlepels van die melktertvulsel in elke nessie net voor opdiening. (As jy dit te lank voor bediening inskep gaan die nessies te sag word) Besprinkel elke nessie met kaneel. Bedien warm of koud.

Sunday, 23 November 2014

Grondboontjiebotterkoekies...gestempel met liefde!

Die volgende resep lewer ongeveer 7 dosyn koekies. Hierdie resep sal defnitief een van my favourites word om te bak, veral oor Kerstyd, en ek is bitter trots om te sê dat hierdie my heel eerste 'eie' resep is. My ma het die naweek vir my die oulikste koekiestempel van Prochef gekoop by ons Checkers, en dit was net wat ek nodig gehad het om hierdie koekies so lekker te laat lyk as wat dit proe. 


Bestanddele:

220g botter of margarien
1 koppie suiker (Jy kan so klein bietjie meer ook gebruik)
2 eiers
1 teelepel venieljegeursel
1 koppie gladde grondboontjiebotter
4 koppies meel
½ teelepel koeksoda
½ teelepel sout

Metode:

Meng die botter en suiker in ‘n elektriese mengbak tot ‘n gladde mengsel. Voeg die vanieljegeursel, eiers en grondboontjiebotter by en meng goed.
Sif die meel, koeksoda en sout saam en voeg dit by die grondboontjiebotter mengsel. Meng tot ‘n deeg vorm.
Maak die deeg in kleefplastiek toe en plaas dit in die yskas vir omtrent ‘n uur.
Voorverhit die oond tot 180⁰C en smeer twee bakplate met ‘n kleerwerende middel.
Rol nou die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak tot ‘n dikte van 4mm. Druk die stempel in meel, skud die grootste hoeveelheid meel af en druk die stempel in die deeg. Druk nou ‘n koekie uit met ‘n ronde koekiedrukker en plaas dit op die bakplaat.

Bak die koekies vir 10 minute teen 180⁰C tot ligbruin. Laat dit afkoel op ‘n afkoelrak en geniet!


Monday, 10 November 2014

Boeresamoesas

Die volgende resep lewer ongeveer 30 samoesas. Dit kan warm of koud bedien word. Ek stel voor om dit met 'n bietjie blatjang voor te sit.Vir my is hierdie die perfekte peuselhappie om in die huis te hê op ‘n reënirige dag soos vandag.


Bestanddele:


Vulsel:
1 groot ui, fyngekap
25 ml kookolie
250 g maalvleis
10 ml matige kerriepoeier
5 ml sout
25 ml blatjang
25 ml tamatiesous
25 ml mielieblom

Kors:
275 g (500 ml, ongesif afgemeet) koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
100 g (110 ml) botter of margarien, by kamertemperatuur.
Ongeveer 100 ml koue water

Metode:


Braai die ui in ‘n kastrol oor matige hitte in die olie tot sag. Voeg die maalvleis by, roer dit met ‘n vurk los en braai dit tot gaar. Voeg nou die kerriepoeier, sout, tamatiesous en blatjang by en braai vir ‘n verdere 5 minute. Maak nou die mielieblom aan met ‘n bietjie koue water tot ‘n pasta en voeg dit by die maalvleis. Roer goed deur en laat dit dik word. Laat nou die vulsel afkoel.
Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter of margarien in die meelmengsel in. Sny die water met ‘n spatula in die mengsel in tot ‘n stywe deeg vorm.
Rol die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak. Druk sirkels, 9 cm in  deursnee, uit die deeg. Hiervoor het ek sommer een van my ma se vrugtevles deksels gebruik.
Skep nou 'n teelepel vulsel op elke sirkel. Maak die rande van die deegsirkels met koue water klam. Vou die helfte van die deegsirkel oor die vulsel en druk die boonste rand styf op die onderste rand vas.


Braai die tertjies in warm, diep kookolie tot uitgerys en goudbruin. Dreineer hulle op kombuispapier, laat dit effens afkoel en geniet!