Saturday, 27 February 2016

Gestolde pynappelslaai

Hierdie is nog een van daardie resepte wat ons altyd maak as die familie bymekaar is. As jy die slaai in 'n nagereg verander, koop vir jou 'n swiss roll by jou naaste winkel, sny hom in skywe, en pak dit in 'n laag aan die onderkant van jou tertbak voordat jy die mengsel daaroor skep.


Bestanddele:

1 blik Pineapple Crush
2 eetlepels gelatien (ek verkies om net een eetlepel te gebruik as ek dit in 'n tertbak maak)
Sout
½ koppie suiker
1 eetlepel suurlemoensap
1 koppie room, styfgeklop
1 koppie roomkaas/maaskaas
1 koppie fyngekapte neute

Metode:

Maak die blik pynappel warm en los die gelatien daarin op. Voeg 'n knippie sout by en roer dit tot opgelos. Voeg nou die suiker en suurlemoensap by en roer dit tot opgelos. Laat dit eenkant om af te koel. Meng dan die roomkaas/maaskaas by en vou die styfgeklopte room in. Gooi die mengsel in 'n tertbak of gietvorm van jou keuse en sprinkel die fyngekapte neute oor. Plaas in die yskas om oornag te stol.

WENK: Vir 'n heerlike nagereg, plaas skywe swiss roll onder in die tertbak.

Friday, 5 February 2016

Pastaslaai

Ek is nie oor die algemeen iemand wat lief is vir vreemde kos nie. Ek verkies alles eenvoudig, geen frilletjies en fraaitjies nie. Ek het nog nooit voorheen pastaslaai geeëet nie, want as die familie bymekaar kom is Tannie Koek se pastaslaai altyd so toegegooi onder die rou uie dat ek maar liefs net verbyhou.

My een vriendin het vir ons haar resep gemaak vir ons vakansie in Mosambiek so paar weke terug. Ek het dit nou al twee keer self vir ons by die huis gemaak. Dit is vrek lekker en die ideale middagete. Baie dankie liefste vriendin, Francoisné, dat ek jou lekker resep mag deel.

Bestanddele:

500g noodles
1 ui, fyngekap (opsioneel)
1 green pepper, fyngekap (opsioneel)
Sous:
250ml tamatiesous
25ml kerriepoeier
160g suiker
7ml sout
125ml olie (nie olyfolie nie)
125ml wit asyn
2ml peper
5ml Tabasco sous

Metode:

Kook die noodles tot amper al dente(gaar maar ferm) en spoel dit af onder koue water. Meng al die bestanddele van die sous saam in 'n klein potjie en bring dit tot kookpunt op die stoof. Laat die sous effens afkoel en gooi dit dan oor die noodles. Plaas dit in die yskas oornag
en skud die bak goed elke keer wat jy by verbyloop.

Oreo kaaskoek

Hierdie is een van my gunsteling resepte sover en het vir 'n klomp koffie-en-koek koshuiskuiers gesorg hierdie week. Ek het my Tannie Bessie se kaaskoek resep gebruik en hom bietjie opgedollie met Oreo sjokolade mousse en sjokolade ganache. My swaer werk vir Mondelez en het nou die dag vir ons 'n klomp Oreo sjokolade slabs gebring. Jip, my sussie het sommer BAIE slim getrou!! Ek vind soms dat sjokolade kaaskoek oorweldigend soet is, so ek het my resep 'n bietjie meer lig en romerig gemaak. Gebruik 'n diep tertbak vir hierdie resep. Probeer hom asseblief!



Bestanddele: 

Kors:
1 pakkie Marie beskuitjies
100g ongesoute botter, gesmelt
2 eetlepels strooisuiker

Vulsel:
1 blik kondensmelk
½ suurlemoen se sap
500g Lancewood Cream Cottage Cheese
30ml koue water
20ml gelatien
250ml room, styfgeklop

Mousse:
500ml room, styfgeklop
90g Oreo sjokolade 

Ganache:
30ml room
150g Oreo sjokolade 
2 eetlepels Nutella (opsioneel)

Metode:


Rol die beskuitjies fyn met ‘n koekroller, voeg die strooisuiker en gesmelte botter by. Vul jou tertbak met ‘n laag van omtrent ½cm en druk dit plat met die agterkant van ‘n teelepel. Plaas jou bak in die oond vir 5 minute by 180⁰C. Haal dit uit die oond en laat dit behoorlik afkoel.

Maak jou vulsel aan. Meng die kondensmelk, suurlemoensap en roomkaas saam in ‘n elektriese mengbak tot ‘n gladde mengsel vorm. Strooi nou die gelatien oor die koue water en meng dit goed. Plaas nou die gelatien in die mikrogolf vir tien sekondes en roer dit dadelik weer goed deur. Herhaal dit 2-3 keer totdat jou gelatien goed opgelos is en jou mengsel warm is. Meng dit nou dadelik by jou mengsel in die elektriese mengbak. Dit is belangrik dat jou gelatien mengsel nie kook nie en ook nie stol nie. Vou nou jou styfgeklopte room by die mengsel in. Vul jou tertbak so net oor die halfpad vol met die mengsel en plaas dit in die yskas tot dit begin stol. 

Klop die room vir jou mousse styf en smelt die Oreo sjokolade in 'n dubbelkoker. Laat die sjokolade effens afkoel, maar moenie dat dit stol nie. Vou dit nou by jou room in en skep dit oor die kaaskoek. Plaas dit terug in die yskas en los dit om oornag te stol. 

Smelt die sjokolade vir die ganache in 'n dubbelkoker. Voeg die Nutella en die room by en meng dit aanhoudend tot dit alles gesmelt is. Verwyder die mengsel van die hitte en hou aan om dit te meng, ek plaas hier gewoonlik dan my bak oor 'n bak ys om tyd te spaar. As die mengsel die tekstuur van dik vla bereik is dit reg om oor jou kaaskoek te gooi. Gooi dit bietjies-bietjies oor en versprei dit liggies met 'n lepel sodat dit die hele kaaskoek dek. Plaas dit terug in die yskas en bedien as die ganache gestol het. 


Friday, 25 December 2015

Bosveld patats met Amarula


Uiteindelik het ek weer tyd om te blog! Hierdie jaar was een van my besigste nog en ek het vinnig besef dat hierdie blog storie iets is waarvoor mens baie tyd moet hê. Die resepte het opgegaar en nou het ek sommer baie lekker dinge om weer met julle te deel.

Ek is verbaas met hoeveel daar in 'n enkele jaar kan gebeur. Eerstens kan ek met trots aankondig dat ek my vierdejaar van veeartsenykunde geslaag het en nou net nog twee jaar se studies oor het. My een dosent spot dat ons nou al maar die dokter titel met 'n klein lettertjie 'd' voor ons name mag begin byvoeg. Ek het hierdie jaar ook 'n swaer ryker geword en die gewig van my eerstejaarsindroom afgeskud. En dan het my pa ook vir ons die mooiste plaas gekoop in die Waterberge, tussen Vaalwater en Nylstroom. Dit is ons eie stukkie paradys! My pa het groot geword op 'n plaas wat verkoop is toe hy tien was, en van toe af droom hy al om eendag sy eie stukkie grond te hê. Dis nou veertig jaar later en uiteindelik kan my pa sy groot droom leef. Nodeloos om te sê, ons spandeer nou elke oomblik wat ons moontlik kan daar!

Dis daaroor dat ek besluit het om sommer eerste my bosveld patats met Amarula met julle te deel. Dit is een van ons gunstelinge saam braaivleis. Ek kan belowe dat hierdie altyd 'n treffer gaan wees.

Benodighede: 

Patats
Amarula
Bruinsuiker
Botter
Foelie

Metode:

Sny die patats in skywe en pak dit in lae op 'n vel foelie. Ek verkies om die skil aan te hou omdat dit baie mooi lyk as die patats gaar is. Voeg die botter, bruinsuiker en Amarula by na smaak (moenie skaam wees nie). Maak die foelie mooi toe en sit dit op medium-warm kole vir 35-40 minute tot gaar.



Wednesday, 1 July 2015

Ouma Judy se guava-jellie


Ek is ongelooflik opgewonde om hierdie resep met julle te deel! Dit het behoort aan my liefste Ouma Judy. Ek onthou hoe ons in my kinderdae vir haar op Ohrigstad gaan kuier het en sy dan met bokse koejawels in haar kombuis gestaan het. Sy het ons nooit huistoe gestuur sonder ten minste een van haar bottles jellie nie, en dan het ons dit maar baie spaarsamig gebruik tot ons weer kon gaan kuier. My ouma was ongelooflik goed in die kombuis, ek wonder soms of dit nie dalk is waar my liefde vir bak vandaan kom nie. Sy het in haar laaste paar jaar so 10 minute se ry van ons kampus af gebly, so ek kon weekliks gou gaan inloer en dan het ek altyd gesukkel om daar weg te kom want ons kon net  nie ophou gesels nie. My ouma is verlede jaar oorlede en ons planne dat sy moes kom kuier en my stap-vir-stap verduidelik hoe om hierdie jellie te maak het ongelukkig nooit gerealiseer nie.


Ek wag al ‘n jaar vir koewjawels om in die winkels te kom sodat ek hierdie resep kan uittoets. Ek het nog nooit so baie gewens dat daar selfone in die Hemel was soos hierdie naweek nie, want jellie kook is baie harde werk! Alhoewel my guava-jellie seker nooit by my ouma sn sal kom nie is hierdie is ‘n resep wat ek eendag as ek self ‘n oumatjie nog sal maak.

Bestanddele: (Genoeg vir ongeveer 1 liter jellie)


2.5kg koejawels
Water
Ongeveer 4 koppies suiker

Metode:


Maak seker dat die koejawels wat jy koop nie oorryp is nie. Dit is belangrik dat die koejawels baie pektien en suur bevat en daarom werk voorryp vrugte die beste.

Sny die puntjies van die koejawels af en sny hulle dan op in stukkies. Gooi dit in ‘n groot kastrol saam met die water. Gebruik een koppie (250ml) water vir elke 500g vrugte. Kook dit vinnig teen ‘n hoë temperatuur vir 22-25 minute.

Gebruik nou ‘n klam flenniedoek om die sap te onttrek. Jy kan ook ‘n groot draadsif met twee lae kaadoek oortrek en ‘n lagie watte tussen die twee lae pak. Ek het hier my flenniedoek oor ‘n groot kastrol getrek en dit met ‘n toutjie styf vasgebind. Gooi die kokende vrugte op die doek sodat dit stadig deurdrup. Hier moet jy nou geduldig wees, gooi vir jou ‘n glasie wyn, gryp ‘n goeie boek en los die vrugte vir 3 ure om te dreineer. Moet op geen stadium die vrugte roer of deurdruk nie want dit sal jou jellie ‘n wolkerige kleur maak.

Skep dan versigtig die vrugte van die doek af en verwyder die doek. Meet die hoeveelheid sap wat jy het. Voeg een koppie suiker by vir elke koppie sap en verhit die sap op die stoof sodat die suiker smelt en ‘n stroop vorm.

Suig die stroop deur ‘n klam flennielap om die onsuiwerheid van die suiker uit die stroop te kry. Plaas dan die stroop op die stoof en laat dit tot ‘n jellie kook. Dit is belangrik dat jou jellie baie vinnig kook en dat jy dit gladnie moet roer nie. My jellie het vir ongeveer 12 minute gekook tot dit reg was. Jou jellie is reg wanneer dit stadig van ‘n lepel af loop of wanneer jy dit op ‘n piering laat drup. Jy kan ook die jellie met jou vinger aanvoel sodra dit afgekoel het.

Maak seker dat die bottels wat jy gaan gebruik is skoon en steriel is. Vul 'n kastrol met met koue water ongeveer 5 cm diep en plaas jou bottels en deksels in die water. Plaas die kastrol in 'n warm oond en laat die bottels kook vir ongeveer 10 minute. Vul hulle sodra jy hulle uit die oond haal.


Bedien met warm brood en botter.

Monday, 27 April 2015

Nutella truffels

Hierdie is van die lekkerste truffles wat ek nog geproe het. Ek sukkel altyd om met sjokolade te werk omdat dit by kamertemperatuur smelt nadat ek dit gebruik het om iets te versier. Ek het bietjie opgelees en op 'n artikel afgekom waar hulle op 'n baie moeilike manier eers iets van vetmolekules en verbindings verduidelik en dan uiteindelik verduidelik hoe jy dit reg kan kry om die sjokolade waarin jy jou truffles doop gestol te hou by kamertemperatuur. Dit maak alles sommer baie makliker want dan hoef jou truffles nie die hele tyd in die yskas te staan nie, of dan kan jy selfs dit in boksies verpak vir geskenkies.



Ek sal voorstel dat jy die tutoriaal kyk voordat jy hierdie resep uittoets. Hierdie resep lewer ongeveer 30 truffles en kan vir 7 dae in 'n lugdigte houer of tot 30 dae in die vrieskas gestoor word.

Bestanddele:

280g donkersjokolade
⅓ koppie room
½ koppie Nutella
200g donker/melksjokolade om die truffles in te doop
50g gekapte neute vir versiering (opsioneel)

Metode:

Rasper die donkersjokolade en gooi dit in 'n mengbak. Maak nou die room warm in die mikrogolf, maak seker dat dit nie kook nie. Gooi dan die room oor die sjokolade en meng dit goed sodat al die sjokolade smelt en 'n gladde mengsel vorm. Voeg nou die Nutella by en meng dit goed deur. Bedek die mengbak met kleefplastiek en plaas dit in die yskas vir ongeveer 2 ure om te stol.

Bedek nou 'n bakplaat of skinkbord met waspapier en laat eenkant. Haal die mengsel uit die yskas en skep balletjies van ongeveer 1 teelepel groot daaruit en plaas dit op die bakplaat. Hiervoor het ek sommer die dingetjie gebruik waarmee my ma altyd balletjies uit waatlemoen skep. Jy kan ook die balletjies vorm deur dit in jou handpalms te rol. Plaas die balletjies terug in die yskas vir 15 minute.

Smelt die sjokolade in die mikrogolf. Volg die instruksies in die tutoriaal waarvan ek bo gepraat het. As jy nie 'n termometer het nie, verhit die sjokolade en meng dit na elke paar sekondes om te toets. Die sjokolade is reg as dit effens brand as jy dit teen die onderkant van jou lip laat raak. Koel dan jou sjokolade af soos wat hulle sê deur oorblywende sjokolade by te meng. Die temperatuur is dan reg as die sjokolade effens koeler as liggaamstemperatuur is wanneer dit aan jou onderlip raak. Maak gebruik van 'n vurk om die truffle balletjies een-een in die sjokolade te doop, tik die vurk liggies teen die kant van die bak om die oortollige sjokolade af te skud en plaas dan die balletjie op die bakplaat om te stol. Moenie die balletjies in die yskas plaas nie. (Tensy jy nie my metode gevolg het om die sjokolade te smelt nie.)

As al jou balletjies bedek is met sjokolade en gestol het kan jy dit versier deur 'n ekstra bietjie sjokolade met die vurk op die bokant van 'n truffle te sit en dan dadelik jou versiersel op te sit. Jy kan neute, klapper, versiersuiker of enige iets van jou keuse gebruik. Los die sjokolade vir 'n uur om behoorlik te stol en gebruik handskoene om dit te hanteer as jy regtig moet sodat jy nie jou vingerafdrukke daarop los nie.

Stoor dit in 'n lugdigte houer en geniet!


Sunday, 26 April 2015

Biltong-en-cheddarkaas quiche…die perfekte rugby-ontbyt!

Ek is so lief daarvoor om Suid-Afrikaans te wees, en een van my gunsteling dinge daarvan is ons rugbygees...dit is nou natuurlik naas ons taal en ons boerseuns (hiehiehie)!! Probeer bietjie hierdie quiche vir volgende naweek se rugby, dit sal beslis 'n gunsteling word!

BESTANDDELE:

1 x 400g-vel broskorsdeeg
100g cheddarkaas, grofgerasper
160g gesnyde beesbiltong (Klam biltong werk die beste)
2 eiers
250ml room
Varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE:

Verhit die oond tot 180 °C. Rol die broskorsdeeg op ’n meelbestrooide oppervlak dunner uit en voer ’n gesmeerde tertbord van sowat 18 cm daarmee uit. Sprinkel die kaas onderin die tertbak en rangskik biltong bo-op. Klits die eiers en room saam in ‘n mengbak en gooi dit oor die kaas en biltong. Geur dit met ‘n bietjie met peper na ju smaak. Bak dit vir sowat 35 minute, totdat die eiermengsel gestol het. Jy kan die quiche warm of teen kamertemperatuur voorsit.


Kry die oorspronklike resep op Sarie se webblad.