Saturday, 4 April 2015

Gebakte appel tjips

April het aangebreek! As jy hierdie jaar soos ek baie hard probeer dat die aaklige winter jeans nie weer so knyp nie is hierdie idee vir jou!  Hierdie tjips is vreeslik lekker en die ideale pauselhappie as jy lus raak vir iets lekker. Ek moes dit nou al meer as een keer hierdie naweek vir ons maak. Ek sal voorstel dat jy Top Red of Golden Delicious appels gebruik vir hierdie resep.

Bestanddele:

Appels (een per persoon)

Metode:

Ontpit al jou appels en sny dit in baie dun ronde skyfies, so ongeveer 2mm dik. Plaas bakpapier op ‘n groot bakplaat en plaas die appel skyfies op die papier neer. Moenie dat jou skyfies oorvleuel nie.
Plaas die bakplaat in die oond en bak die skyfies vir een uur by 90⁰C, waarna jy dit omdraai en vir ‘n verdere uur bak. Haal dit uit die oond, laat dit effens afkoel en geniet!

Stoor hierdie tjips in ‘n lugdigte houer. (Dit is nou as jy dit nie sommer dadelik op eet nie!!)

Thursday, 2 April 2015

Paaseiers met kaaskoekvulsel

Hierdie resep lewer ongeveer 8 paaseiers en is die ideale paasfees bederf wat jy binne 'n uur kan voorberei en bedien. Ek het die hol paaseiers sommer by Woolworths gekoop. Die lemon curd kry jy by jou plaaslike supermark te koop, maar as jy kans sien kan jy gerus die resep probeer wat ek vir my Klein Lemon Meringue kaaskoekies gebruik het...ek belowe jy sal die spyt wees nie.

Bestanddele:

8 hol sjokolade paaseiers, ongeveer 4x6cm
150g roomkaas
¼ koppie versiersuiker, gesif
½ teelepel suurlemoensap
½ teelepel vanieljegeursel
125ml (½ koppie) room

Metode:

Gebruik 'n mes om versigtig die bokante van die sjokolade eiers te verwyder. As jy dit netjies wil laat lyk sal dit help as jy die mes vooraf met warm water verhit. Plaas dan die doppe in die yskas om koel te bly terwyl jy die vulsel voorberei. 
Klop die roomkaas. versiersuiker, suurlemoensap en vanieljegeursel saam in 'n elektriese mengbak teen hoë spoed vir 3-4 minute en laat eenkant. Klop nou die room in 'n aparte bak styf en vou dit daarna by die roomkaas mengsel in. 
Vul nou elke eiertjie met vulsel en plaas dit in die yskas vir ten minste 'n halfuur om te stol.
Wanneer die vulsel reg is, skep 'n klein holtetjie van ongeveer 1 cm diep in elke eiertjie se vulsel. Vul dan die holtetjie met lemon curd en bedien

Hierdie eiertjies kan 2-3 dae voor die tyd reeds gemaak word en in 'n lugdigte houer in die yskas gestoor word. 



Tuesday, 31 March 2015

Paasfees kolwyntjies

Kolwyntjies met dié lekkerste malvalekker versiersel...


Paastyd is een van my gunsteling tye van die jaar! Hierdie tyd is gevul met die reuk van vars hot cross buns wat in die huis hang, bokse en bokse vol paaseiers en kerkdienste waar my ma uiteindelik die geleentheid kry om Houtkruis uit volle bors te sing sonder dat iemand vir haar staar.

Hierdie jaar wou ek graag Paastyd gebruik om iets doen om bietjie terug te gee aan die gemeenskap. Ek het besluit om hierdie kolwyntjies te bak vir ons plaaslike ouetehuis. Hierdie is ‘n nuwe versiersel resep wat ek probeer het en ek is MAL daaroor. Ek was nog nooit lief vir swaar versiersuiker nie, so hierdie lig en romerige versiering is volgens my die perfekte afronding vir enige kolwyntjie en defnitief iets om te onthou.

Bestanddele:

1 boks kolwyntjiemengsel (sjokolade of vanilla)
2 eierwitte
½ koppie suiker
1 knippie sout
½ teelepel vanieljegeursel
1 donkersjokolade blok
2 klein pakkies Speckled Eggs

Metode:

Ek het so bietjie gekroek met die resep en sommer ‘ n boks aanmaak kolwyntjiemengsel gekoop. Volg die instruksies op die boks en laat die kolwyntjies eenkant om aft e koel.
Trek ‘n skinkbord met waspapier oor. Smelt die donkersjokolade in die mikrogolfoond en gebruik ‘n mes om die sjokolade in strepe oor mekaar te laat loop op die waspapier. Trek die strepe in verskillende rigtings en bo-oor mekaar sodat dit ‘n web vorm. Plaas die skinkbord in die yskas sodat die sjokolade kan stol.
Versiersel: 
Klits die eierwitte, suiker en sout oor matige hitte in ‘n dubbelkoker tot die suiker gesmelt het. (Dit neem so ongeveer 5 minute). Plaas nou die mengsel in ‘n elektriese mengbak en klits dit teen hoë spoed vir ongeveer 3 minute. Voeg die vanieljegeursel by terwyl jy klits.

Verdeel die versiersel tussen die kolwyntjies en versprei dit mooi. Breek nou van die gesmelte sjokolade af en plaas dit op die kolwyntjie om ‘n nessie te vorm. Rond dit af deur drie Speckled Eggs op elke nessie te plaas. 

Paashaas servette

Hierdie is 'n interessante manier om jou servette te vou om jou Paasfees tafel so bietjie op te kikker.


Stap 1:

Lê 'n groot lapservet op 'n plat oppervlak neer.


Stap 2:

Vou die servet in die helfte sodat die onderste hoekies die boonstes ontmoet.

Stap 3:

Herhaal stap drie deur die servet vir 'n tweede keer in die helfte te vou.

Stap 4:

Neem die twee boonste punte en vou hulle oor teen 'n hoek van 90⁰ soos hier onder aangedui.

Stap 5:

Vou nou die onderste. buitenste hoekies na binne.

Stap 6:

Neem die buitenste hoekies van die servet en vou hulle oor sodat die servet die vorm van 'n vlieër aanneem.

Stap 7:

Draai die servet om.

Stap 8:

Vou die onderste punt van die servet na bo.

Stap 9: 

Vou die onderpunte van die servet om sodat dit kan staan. Ek het sommer 'n paperclip gebruik om die servet in plek te hou.

Monday, 30 March 2015

Dodelike sjokolade kaaskoek met Bar-One ganache

Hierdie drie-sjokolade kaaskoek is die oorsaak dat my jeans bietjie stywer gesit het die afgelope maand...maar dit was heeltemal die moeitewerd! Hierdie is een van Sarie Kos se resepte wat ek so bietjie my eie gaan maak het. Dit lewer een kaaskoek van 25cm.

Bestanddele:


Kors:
200g Romany Creams beskuitjies
100g botter, gesmelt

Vulsel:
250ml room
100g 70%-donkersjokolade, fyngekap
100g melksjokolade, fyngekap
100g witsjokolade, fyngekap
750g roomkaas
1 blik (385g) kondensmelk
125ml strooisuiker
2 eiers
10ml vlapoeier

Ganache:
4x 55g Bar-One sjokoladestafies
100ml room

Metode:

Verhit die oond tot 160⁰C en spuit 'n 25cm losboom koekpan met kossproei. Kap die koekies fyn en meng die gesmelte botter in. Voer die bodem van die koekpan met die koekiemengsel uit en druk dit stewig vas. Plaas nou die pan in die yskas tot dit later weer benodig word.
Plaas die gekapte sjokolade in drie aparte bakke. Verhit die room tot kookpunt op die stoof. Verdeel nou die room tussen die drie bakke (sowat 80ml elk) en roer dit deur tot die sjokolade smelt. Laat dit dan eenkant om af te koel. 
Klits die roomkaas, kondensmelk, suiker, eiers en vlapoeier in 'n elektriese mengbak tot lig en romerig. Verdeel dit dan ook tussen jou drie sjokolade mengsels en meng dit goed.
Haal nou die koekpan weer uit die yskas. Gooi die donkersjokolade mengsel eerste in die koekpan, gevolg deur die witsjokolade mengsel en daarna die melksjokolade mengsel. Gooi die mengsels mooi in die middel van die pan sodat dit van daar versprei.
Bak dit vir 40 minute waarna jy die oond se temperatuur na 120⁰C kan verminder. Bak dit dan vir 'n verdere uur. Skakel die oond af en laat dit afkoel in die oond. 
Smelt die Bar-One stafies en die room saam oor lae hitte en roer dit gedurig. Laat dit afkoel totdat dit 'n dik sous vorm. Skep nou die mengsel oor die kaaskoek en verkoel dit oornag in die yskas. Verwyder die ring van die koekpan en graneer met sjokoladeskerwe en framboos.

Wenk: Hierdie kaaskoek word al hoe lekkerder hoe langer hy in die yskas staan. 




Saturday, 31 January 2015

Potjiekos

Ons het gister ons jaarlike Pot&Pons gehad by die koshuis. Huis Onderstepoort sn sluit in ‘n baie fun dag van swem, water slides, lekker musiek en potjie bou terwyl jy aan ‘n (baie sterk) glasie pons sluk. Dit is een van die lekkerste dae van die jaar!
Hierdie jaar was dit my beurt om ons pot te bou, en ek is ongelooflik trots om te sê dat ek dit op my eie bemeester het. Ja, sonder die hulp van ‘n man!
Aangesien ek nog nooit voorheen ‘n potjie gemaak het nie het my pa my verlede naweek geleer. Ek moes notas maak, die bestanddele versigtig saam hom afmeet, die stappe so paar keer van voor tot agter aan hom terugsê voor ek kon ry en gister elke nou en dan ‘n foto stuur om terug te rapporteer. Dit was duidelik dat ek by die beste geleer het want die potjie was ‘n groot sukses. Ek deel graag dan nou met julle my pa se resep. My pa se grootste geheim is om geen water by die pot te gooi nie.

Bestanddele: (Genoeg vir 10 mense)


15 ml kookolie
1½ ui, fyngekap
½ greenpepper
50 ml olyfolie
80 g botter
1t borrie
4 eetlepels mild kerriepoeier
3 kg skaapskenkels
Sout en peper
Groente van eie keuse
6 eetlepels Chutney
6 eetlepels tamatiesous
3 eetlepels worchestersous
500 ml room

Metode:


Smeer die binnekant van ‘n nommer 4 pot met kookolie uit. Plaas die pot oor die kole en los hom vir so ongeveer 15 minute om behoorlik warm te raak. Dit is belangrik dat jy baie warm kole hier moet gebruik. Sodra die pot die regte temperatuur bereik het moet jy die olyfolie en botter ingooi en die botter toelaat om te smelt. Braai nou die uie en greenpepper in die olie tot sag. Voeg die borrie en kerriepoeier by en roer dit goed deur. Nou kan jy jou vleis in die pot gooi. Plaas ‘n paar droë takkies onder die pot om vlammetjies te maak omdat jou pot nou goed warm moet wees. Meng die vleis met die uie en braai dit sodat die vleis net mooi bruin verkleur. Haal nou dadelik baie van die kole onder die pot uit sodat die vleis nie aanbrand nie. Jy wil omtrent 4 kole onder jou pot hou sodat dit stadig kook. Plaas nou die deksel op die pot en wag so ongeveer 20 minute voordat jy die eerste keer weer kyk. Roer die vleis stadig deur, maak seker dit brand nie, en voeg nou sout en peper by na smaak. Jou vleis behoort nou al sy eie sousie begin maak het, as dit nie het nie beteken dit nou kole is te warm. Net as dit ‘n noodgeval is kan jy nou ‘n halwe koppie water byvoeg...maar NET as dit ‘n noodgeval is! Plaas nou weer die deksel op en los die vleis vir nog ‘n uur om sag te word. Loer so elke 20 minute net om die temperatuur van jou kole te monitor. 

Nou kan jy jou groente in lae in die pot pak. Pak die groente wat die langste vat om sag te word eerste in. Maak die pot toe en los dit vir ‘n uur om sag te word, weereens moet jy jou kole monitor. Toets ook so een of twee keer of jy genoeg sout in die pot het. Wanneer alles in jou pot sag gekook het kan  jy jou ‘toorgoed’ (soos wat my pa dit noem) bygooi. Dit sluit in al die lekker goed soos die worchestersous, tamatiesous, chutney, room en mushroom sous. Roer nou jou pot versigtig deur. Sit die deksel op sodat die pot vir ‘n verdere 15 minute kan kook en begin almal nader roep om te kom eet. 

Wednesday, 28 January 2015

Nutella kaaskoek mousse koppies

Bestanddele

 200 g melksjokolade
120 ml roomkaas
½ koppie strooisuiker
⅔ koppie Nutella
½ teelepel vanieljegeursel
1 houer (250ml) Orley Whip

Metode

Gebruik foelie muffin houertjies om die sjokolade koppies te vorm. In ‘n dubbelkoker, laat die melksjokolade smelt. Voer nou elke houertjie met ‘n dun lagie sjokolade uit en laat dit stol voor jy die volgende laag byvoeg. Plaas die koppies in die yskas.

Klop die roomkaas in ‘n elektriese mengbak tot sag. Voeg die strooisuiker, Nutella en vanielje by tot die mengsel glad is. Klop nou die Orley Whip in ‘n aparte bak styf en vou dit dan by die Nutella mengsel in.

Vul nou elke sjokolade koppie met mousse. Plaas dit in die yskas vir ongeveer een uur sodat die mousse kan stol. Neem nou ‘n donkersjokolade en maak skaafsels deur met ‘n aartappelskillertjie daaroor te trek. Haal die koppies uit die yskas, haal dit versigtig uit die foelie en versier met sjokolade  skaafsels.