Monday, 27 April 2015

Nutella truffels

Hierdie is van die lekkerste truffles wat ek nog geproe het. Ek sukkel altyd om met sjokolade te werk omdat dit by kamertemperatuur smelt nadat ek dit gebruik het om iets te versier. Ek het bietjie opgelees en op 'n artikel afgekom waar hulle op 'n baie moeilike manier eers iets van vetmolekules en verbindings verduidelik en dan uiteindelik verduidelik hoe jy dit reg kan kry om die sjokolade waarin jy jou truffles doop gestol te hou by kamertemperatuur. Dit maak alles sommer baie makliker want dan hoef jou truffles nie die hele tyd in die yskas te staan nie, of dan kan jy selfs dit in boksies verpak vir geskenkies.



Ek sal voorstel dat jy die tutoriaal kyk voordat jy hierdie resep uittoets. Hierdie resep lewer ongeveer 30 truffles en kan vir 7 dae in 'n lugdigte houer of tot 30 dae in die vrieskas gestoor word.

Bestanddele:

280g donkersjokolade
⅓ koppie room
½ koppie Nutella
200g donker/melksjokolade om die truffles in te doop
50g gekapte neute vir versiering (opsioneel)

Metode:

Rasper die donkersjokolade en gooi dit in 'n mengbak. Maak nou die room warm in die mikrogolf, maak seker dat dit nie kook nie. Gooi dan die room oor die sjokolade en meng dit goed sodat al die sjokolade smelt en 'n gladde mengsel vorm. Voeg nou die Nutella by en meng dit goed deur. Bedek die mengbak met kleefplastiek en plaas dit in die yskas vir ongeveer 2 ure om te stol.

Bedek nou 'n bakplaat of skinkbord met waspapier en laat eenkant. Haal die mengsel uit die yskas en skep balletjies van ongeveer 1 teelepel groot daaruit en plaas dit op die bakplaat. Hiervoor het ek sommer die dingetjie gebruik waarmee my ma altyd balletjies uit waatlemoen skep. Jy kan ook die balletjies vorm deur dit in jou handpalms te rol. Plaas die balletjies terug in die yskas vir 15 minute.

Smelt die sjokolade in die mikrogolf. Volg die instruksies in die tutoriaal waarvan ek bo gepraat het. As jy nie 'n termometer het nie, verhit die sjokolade en meng dit na elke paar sekondes om te toets. Die sjokolade is reg as dit effens brand as jy dit teen die onderkant van jou lip laat raak. Koel dan jou sjokolade af soos wat hulle sê deur oorblywende sjokolade by te meng. Die temperatuur is dan reg as die sjokolade effens koeler as liggaamstemperatuur is wanneer dit aan jou onderlip raak. Maak gebruik van 'n vurk om die truffle balletjies een-een in die sjokolade te doop, tik die vurk liggies teen die kant van die bak om die oortollige sjokolade af te skud en plaas dan die balletjie op die bakplaat om te stol. Moenie die balletjies in die yskas plaas nie. (Tensy jy nie my metode gevolg het om die sjokolade te smelt nie.)

As al jou balletjies bedek is met sjokolade en gestol het kan jy dit versier deur 'n ekstra bietjie sjokolade met die vurk op die bokant van 'n truffle te sit en dan dadelik jou versiersel op te sit. Jy kan neute, klapper, versiersuiker of enige iets van jou keuse gebruik. Los die sjokolade vir 'n uur om behoorlik te stol en gebruik handskoene om dit te hanteer as jy regtig moet sodat jy nie jou vingerafdrukke daarop los nie.

Stoor dit in 'n lugdigte houer en geniet!


Sunday, 26 April 2015

Biltong-en-cheddarkaas quiche…die perfekte rugby-ontbyt!

Ek is so lief daarvoor om Suid-Afrikaans te wees, en een van my gunsteling dinge daarvan is ons rugbygees...dit is nou natuurlik naas ons taal en ons boerseuns (hiehiehie)!! Probeer bietjie hierdie quiche vir volgende naweek se rugby, dit sal beslis 'n gunsteling word!

BESTANDDELE:

1 x 400g-vel broskorsdeeg
100g cheddarkaas, grofgerasper
160g gesnyde beesbiltong (Klam biltong werk die beste)
2 eiers
250ml room
Varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE:

Verhit die oond tot 180 °C. Rol die broskorsdeeg op ’n meelbestrooide oppervlak dunner uit en voer ’n gesmeerde tertbord van sowat 18 cm daarmee uit. Sprinkel die kaas onderin die tertbak en rangskik biltong bo-op. Klits die eiers en room saam in ‘n mengbak en gooi dit oor die kaas en biltong. Geur dit met ‘n bietjie met peper na ju smaak. Bak dit vir sowat 35 minute, totdat die eiermengsel gestol het. Jy kan die quiche warm of teen kamertemperatuur voorsit.


Kry die oorspronklike resep op Sarie se webblad.

Saturday, 4 April 2015

Gebakte appel tjips

April het aangebreek! As jy hierdie jaar soos ek baie hard probeer dat die aaklige winter jeans nie weer so knyp nie is hierdie idee vir jou!  Hierdie tjips is vreeslik lekker en die ideale pauselhappie as jy lus raak vir iets lekker. Ek moes dit nou al meer as een keer hierdie naweek vir ons maak. Ek sal voorstel dat jy Top Red of Golden Delicious appels gebruik vir hierdie resep.

Bestanddele:

Appels (een per persoon)

Metode:

Ontpit al jou appels en sny dit in baie dun ronde skyfies, so ongeveer 2mm dik. Plaas bakpapier op ‘n groot bakplaat en plaas die appel skyfies op die papier neer. Moenie dat jou skyfies oorvleuel nie.
Plaas die bakplaat in die oond en bak die skyfies vir een uur by 90⁰C, waarna jy dit omdraai en vir ‘n verdere uur bak. Haal dit uit die oond, laat dit effens afkoel en geniet!

Stoor hierdie tjips in ‘n lugdigte houer. (Dit is nou as jy dit nie sommer dadelik op eet nie!!)

Thursday, 2 April 2015

Paaseiers met kaaskoekvulsel

Hierdie resep lewer ongeveer 8 paaseiers en is die ideale paasfees bederf wat jy binne 'n uur kan voorberei en bedien. Ek het die hol paaseiers sommer by Woolworths gekoop. Die lemon curd kry jy by jou plaaslike supermark te koop, maar as jy kans sien kan jy gerus die resep probeer wat ek vir my Klein Lemon Meringue kaaskoekies gebruik het...ek belowe jy sal die spyt wees nie.

Bestanddele:

8 hol sjokolade paaseiers, ongeveer 4x6cm
150g roomkaas
¼ koppie versiersuiker, gesif
½ teelepel suurlemoensap
½ teelepel vanieljegeursel
125ml (½ koppie) room

Metode:

Gebruik 'n mes om versigtig die bokante van die sjokolade eiers te verwyder. As jy dit netjies wil laat lyk sal dit help as jy die mes vooraf met warm water verhit. Plaas dan die doppe in die yskas om koel te bly terwyl jy die vulsel voorberei. 
Klop die roomkaas. versiersuiker, suurlemoensap en vanieljegeursel saam in 'n elektriese mengbak teen hoë spoed vir 3-4 minute en laat eenkant. Klop nou die room in 'n aparte bak styf en vou dit daarna by die roomkaas mengsel in. 
Vul nou elke eiertjie met vulsel en plaas dit in die yskas vir ten minste 'n halfuur om te stol.
Wanneer die vulsel reg is, skep 'n klein holtetjie van ongeveer 1 cm diep in elke eiertjie se vulsel. Vul dan die holtetjie met lemon curd en bedien

Hierdie eiertjies kan 2-3 dae voor die tyd reeds gemaak word en in 'n lugdigte houer in die yskas gestoor word. 



Tuesday, 31 March 2015

Paasfees kolwyntjies

Kolwyntjies met dié lekkerste malvalekker versiersel...


Paastyd is een van my gunsteling tye van die jaar! Hierdie tyd is gevul met die reuk van vars hot cross buns wat in die huis hang, bokse en bokse vol paaseiers en kerkdienste waar my ma uiteindelik die geleentheid kry om Houtkruis uit volle bors te sing sonder dat iemand vir haar staar.

Hierdie jaar wou ek graag Paastyd gebruik om iets doen om bietjie terug te gee aan die gemeenskap. Ek het besluit om hierdie kolwyntjies te bak vir ons plaaslike ouetehuis. Hierdie is ‘n nuwe versiersel resep wat ek probeer het en ek is MAL daaroor. Ek was nog nooit lief vir swaar versiersuiker nie, so hierdie lig en romerige versiering is volgens my die perfekte afronding vir enige kolwyntjie en defnitief iets om te onthou.

Bestanddele:

1 boks kolwyntjiemengsel (sjokolade of vanilla)
2 eierwitte
½ koppie suiker
1 knippie sout
½ teelepel vanieljegeursel
1 donkersjokolade blok
2 klein pakkies Speckled Eggs

Metode:

Ek het so bietjie gekroek met die resep en sommer ‘ n boks aanmaak kolwyntjiemengsel gekoop. Volg die instruksies op die boks en laat die kolwyntjies eenkant om aft e koel.
Trek ‘n skinkbord met waspapier oor. Smelt die donkersjokolade in die mikrogolfoond en gebruik ‘n mes om die sjokolade in strepe oor mekaar te laat loop op die waspapier. Trek die strepe in verskillende rigtings en bo-oor mekaar sodat dit ‘n web vorm. Plaas die skinkbord in die yskas sodat die sjokolade kan stol.
Versiersel: 
Klits die eierwitte, suiker en sout oor matige hitte in ‘n dubbelkoker tot die suiker gesmelt het. (Dit neem so ongeveer 5 minute). Plaas nou die mengsel in ‘n elektriese mengbak en klits dit teen hoë spoed vir ongeveer 3 minute. Voeg die vanieljegeursel by terwyl jy klits.

Verdeel die versiersel tussen die kolwyntjies en versprei dit mooi. Breek nou van die gesmelte sjokolade af en plaas dit op die kolwyntjie om ‘n nessie te vorm. Rond dit af deur drie Speckled Eggs op elke nessie te plaas. 

Paashaas servette

Hierdie is 'n interessante manier om jou servette te vou om jou Paasfees tafel so bietjie op te kikker.


Stap 1:

Lê 'n groot lapservet op 'n plat oppervlak neer.


Stap 2:

Vou die servet in die helfte sodat die onderste hoekies die boonstes ontmoet.

Stap 3:

Herhaal stap drie deur die servet vir 'n tweede keer in die helfte te vou.

Stap 4:

Neem die twee boonste punte en vou hulle oor teen 'n hoek van 90⁰ soos hier onder aangedui.

Stap 5:

Vou nou die onderste. buitenste hoekies na binne.

Stap 6:

Neem die buitenste hoekies van die servet en vou hulle oor sodat die servet die vorm van 'n vlieër aanneem.

Stap 7:

Draai die servet om.

Stap 8:

Vou die onderste punt van die servet na bo.

Stap 9: 

Vou die onderpunte van die servet om sodat dit kan staan. Ek het sommer 'n paperclip gebruik om die servet in plek te hou.

Monday, 30 March 2015

Dodelike sjokolade kaaskoek met Bar-One ganache

Hierdie drie-sjokolade kaaskoek is die oorsaak dat my jeans bietjie stywer gesit het die afgelope maand...maar dit was heeltemal die moeitewerd! Hierdie is een van Sarie Kos se resepte wat ek so bietjie my eie gaan maak het. Dit lewer een kaaskoek van 25cm.

Bestanddele:


Kors:
200g Romany Creams beskuitjies
100g botter, gesmelt

Vulsel:
250ml room
100g 70%-donkersjokolade, fyngekap
100g melksjokolade, fyngekap
100g witsjokolade, fyngekap
750g roomkaas
1 blik (385g) kondensmelk
125ml strooisuiker
2 eiers
10ml vlapoeier

Ganache:
4x 55g Bar-One sjokoladestafies
100ml room

Metode:

Verhit die oond tot 160⁰C en spuit 'n 25cm losboom koekpan met kossproei. Kap die koekies fyn en meng die gesmelte botter in. Voer die bodem van die koekpan met die koekiemengsel uit en druk dit stewig vas. Plaas nou die pan in die yskas tot dit later weer benodig word.
Plaas die gekapte sjokolade in drie aparte bakke. Verhit die room tot kookpunt op die stoof. Verdeel nou die room tussen die drie bakke (sowat 80ml elk) en roer dit deur tot die sjokolade smelt. Laat dit dan eenkant om af te koel. 
Klits die roomkaas, kondensmelk, suiker, eiers en vlapoeier in 'n elektriese mengbak tot lig en romerig. Verdeel dit dan ook tussen jou drie sjokolade mengsels en meng dit goed.
Haal nou die koekpan weer uit die yskas. Gooi die donkersjokolade mengsel eerste in die koekpan, gevolg deur die witsjokolade mengsel en daarna die melksjokolade mengsel. Gooi die mengsels mooi in die middel van die pan sodat dit van daar versprei.
Bak dit vir 40 minute waarna jy die oond se temperatuur na 120⁰C kan verminder. Bak dit dan vir 'n verdere uur. Skakel die oond af en laat dit afkoel in die oond. 
Smelt die Bar-One stafies en die room saam oor lae hitte en roer dit gedurig. Laat dit afkoel totdat dit 'n dik sous vorm. Skep nou die mengsel oor die kaaskoek en verkoel dit oornag in die yskas. Verwyder die ring van die koekpan en graneer met sjokoladeskerwe en framboos.

Wenk: Hierdie kaaskoek word al hoe lekkerder hoe langer hy in die yskas staan.